Gaan Jaque werklik weer toprugby speel?

Jaque Fourie

Een van Suid-Afrika se beste senters die afgelope paar dekades het glo besluit om weer rugby te speel.

Maar is daar in hierdie geval wél ʼn vuurtjie waar hierdie rokie trek? Miskien, maar dit lyk baie onwaarskynlik.

Jaque Fourie, wat die Stormers in 2011 verlaat het en een van die eerste Suid-Afrikaanse spelers in die Japanse ligas was, wag volgens mediaberigte die afgelope naweek net vir die finalisering van sy kontrak. Hy sal glo eers daarna bevestig dat hy wel vir die Force in die nuwe Indo-Pasifiese Kampioenskapsreeks gaan speel.

Die reeks is deur die mynmagnaat, miljardêr Andrew Forrest, in die lewe geroep nadat die Western Force, net soos die Cheetahs en die Southern Kings, uit die verkleinde Superreeks gesny is.

Forrest beweer dat hy meer as 250 “elite”-spelers van oor die rugbywêreld gekontrakteer het om in die reeks te speel.

♦  Dit is egter met effens ongeloof dat jy hoor Fourie sal gekontrakteer word. Die reeks sal eers aanstaande jaar, ʼn maand of so voor Fourie se 36ste verjaardag in Maart, afskop. Boonop is dit nou al meer as ʼn jaar gelede dat Fourie uitgetree het.

Daar is ook steeds talle struikelblokke in Forrest se weg om met die reeks voort te gaan, onder meer omdat die Australiese Rugbyunie steeds huiwerig is om die rebellereeks goed te keur.

En hoeveel huidige sogenaamde “elite”-spelers sal wel in die reeks speel? Of is dit maar manne soos Jaque Fourie wat lankal oor hulle beste is?

Fourie, wat nou 34 is, het in 2011 as 28-jarige na Japan vertrek waar hy toe reeds sowat R11 miljoen per jaar verdien het vir rugby wat minder tyd as hier in beslag neem en ook nie so fisiek is nie. Hulle speel ook heelwat minder wedstryde as in Suid-Afrika en Europa.

Fourie het in 72 toetse en in 98 Superwedstryde vir die Lions en die Stormers gespeel. Hy het in Januarie 2017 uitgetree.

♦  Die oud-Springbokagsteman Ryan Kankowski, wat as jongeling by die Blitsbokke die oog getrek en by die nasionale span betrek is, is glo ook deur Forrest genader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veritas ·

Mannetjies Roux was ‘n beter senter op sy dag. Hoekom hom nie teruglok nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.