Twee gewese Curriebekerspelers het Sondag gehelp dat Hongkong in sy kragmeting teen Kenia gelykop speel.
Hongkong is 24ste op Wêreldrugby se ranglys en Kenia 25ste, en die telling van 19-19 op die RFUEA-terrein in Nairobi is waarskynlik ʼn goeie weerspieëling van die twee lande se vergelykende rugbykrag.
Dit was die eerste in ʼn reeks van twee toetse in Nairobi tussen die lande.
Kenia, wat deur die Suid-Afrikaner Jerome Paarwater afgerig word, moes ʼn 0-14 agterstand te bowe kom om op die ou end die gelykop uitslag af te dwing.
Drieë deur Jack Parfitt (stut) en Tyler Spitz (senter), verdoel deur Matt Rosslee, wat Curriebekerrugby vir Griekwas gespeel het, het die besoekers binne 13 minute in beheer gestel – aangehelp deur ʼn enkelbesering aan die Keniaanse losskakel, Biko Adema.
Die Simbas se kaptein, George Nyambua, het sy span se eerste drie ná 19 minute gedruk. Die plaasvervanger-losskakel, Kenny Andola, het dit verdoel; en nog ʼn drie deur Alex Olaba (linkervleuel) het die Keniaanse agterstand teen rustyd tot 12-14 laat krimp.
Die nuweling Liam Slatem (skrumskakel) het kort ná die blaaskans gaan druk om Hongkong met 19-12 te laat voorloop.
Hy het die Luiperds in die Curriebekerreeks verteenwoordig.
Die gelykmakende punte het gekom met Dennis Muhanji (regtervleuel) se drie, verdoel deur Andola, in die 63ste minuut.
Die Suid-Afrikaanse skeidsregter Egon Seconds het die fluitjie in die toets hanteer.