Goosen in Bok-breiers se visier

Johan Goosen op pad na ’n drie. Foto: GB Jordaan.

Rassie Erasmus en Jacques Nienaber sal Saterdag met groot oë die Bulle se wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) dophou.

Die Springbokke soek ’n betroubare losskakel om die plek van die beseerde Handré Pollard in te neem en die Bulle se Johan Goosen is een van die spelers op die lys van kandidate om die einde van die jaar die Groen-en-Goud-trui oor sy kop te trek.

Goosen is ingesluit in die Bulle se span vir hul wedstryd Saterdag in Limerick teen Munster nadat hy verlede naweek se wedstryd teen die Glasgow Warriors misgeloop het omdat die Pretorianers nie met hom wou waag op dié span se kunsgrasveld nie.

Hy het verlede jaar op dié einste veld ’n kniebesering opgedoen wat hom maande op die krukkelys gehou het.

Goosen vervang die bestendige Chris Smith in die Bulle se beginspan, met Smith wat na die bank skuif in die plek van Morné Steyn, wat uit die 23-tal val.

Jake White, die Bulle se afrigter, het voorts verdere veranderinge agterlangs gemaak met die insluiting van Embrose Papier op skrumskakel, Wandisile Simelane op linkervleuel in die plek van Stedman Gans en Harold Vorster op binnesenter in David Kriel se plek.

Voorlangs kry Simphiwe Matanzima en Mornay Smith op onderskeidelik loskop en vaskop kans om hulself te laat geld, terwyl Walt Steenkamp as flank in Marco van Staden se plek sal begin.

Saterdagaand se wedstryd op Thomond Park is belangrik vir die Bulle in hul aanslag op die VRK-kroon.

Hulle het reeds verlede naweek gegly en wil nie ’n tweede agtereenvolgende nederlaag ly nie al is die kompetisie nog lank nie verby nie.

Die Bulle se span is:

Kurt-Lee Arendse, Cornal Hendricks, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Wandisile Simelane, Johan Goosen, Embrose Papier, Elrigh Louw, WJ Steenkamp, Marcell Coetzee (k), Ruan Nortje, Walt Steenkamp, Mornay Smith, Jan-Hendrik Wessels, Simphiwe Matanzima. Plaasvervangers: Bismarck du Plessis, Dylan Smith, Jacques van Rooyen, Ruan Vermaak, Marco van Staden, Zak Burger, Chris Smith, David Kriel.

Haaie kies Etzebeth, Tshituka vir Saterdag

Die Springbok-bulslot Eben Etzebeth maak Saterdag sy debuut vir die Haaie, maar die vuurvreter-senter Rohan Janse van Rensburg sal egter die volgende maand op die kantlyn sit.

Die 30-jarige Etzebeth is Vrydag ingesluit in die Haaie se span vir hul kragmeting Saterdag op King’s Park in die Verenigde Rugbykampioenskap-reeks teen die Glasgow Warriors.

Waar daar groot blydskap was oor Etzebeth se eerste verskyning in ’n Haai-trui, was daar ook slegte nuus vir die ondersteuners van die Durbaniete.

Die stewige Haai-senter Janse van Rensburg is vir vier weke geskors nadat hy verlede naweek in sy span se wedstryd in Dublin teen Leinster van die veld gestuur is.

Janse van Rensburg is deur skeidsregter Craig Evans van die veld gestuur nadat hy Garry Ringrose hooggevat het ’n minuut nadat hy Ross Byrne met sy skouer teen die kop getref het toe hy hom probeer duik het.

Etzebeth is nie die enigste aanwins van die Haaie wat die naweek speelkans kry nie.

Flank Vincent Tshituka sal langs die kant van die skrum vir die Haaie sak en die gewese Leeu sal saam met Phepsi Buthelezi en Dylan Richardson kans kry om in die Haai-tenk te brul.

Voorts neem die Bok-skrumskakel Jaden Hendrikse oor by die beseerde Grant Williams en is Anthony Volmink die nuwe linkervleuel in Thaakir Abrahams se plek.

Die Springbok-kaptein Siya Kolisi bevind hom Saterdag op die bank en sy aanhangers sal hoop hy kry speelkans na sy lekker blaaskans nadat hy op internasionale diens vir die Bokke was.

Die Haaie se span:

Aphelele Fassi, Werner Kok, Marnus Potgieter, Ben Tapuai, Anthony Volmink, Boeta Chamberlain, Jaden Hendrikse, Phepsi Buthelezi, Vincent Tshituka, Dylan Richardson, Hyron Andrews, Eben Etzebeth, Thomas du Toit (k), Kerron van Vuuren, Ntuthuko Mchunu. Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Ox Nche, Carlu Sadie, Reniel Hugo, Siya Kolisi, Sikhumbuzo Notshe, Cameron Wright, Makazole Mapimpi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.