Haaie: Ian Mac sou trots wees

(Foto: The Currie Cup/Twitter)

Dié een was vir jou, Mac.

Dit was Vrydagaand op Kingspark in Durban die ondubbelsinnige boodskap wat die Haaie in dik swart hoofletters teen die Pumas in hul Curriebeker-wedstryd uitgespel het.

Voor die afskop is daar hulde gebring aan die legendariese Haaie-afrigter Ian McIntosh wat vroeër in die week aan kanker oorlede is.

Die Haaie was vol emosie, passievol en wou op gepaste wyse hulde bring aan Ian Mac.

Dit is hoekom hulle die Pumas met 19-12 geklop het nadat hulle rustyd reeds met 16-0 voor was.

Die Pumas se afrigter, Jimmy Stonehouse, kan maar net kopskud oor waar dinge skeefgeloop het; oor hoe sy span geboelie is, by die afbreekpunte ore aangesit is en nie oor die voordeellyn kon kom nie.

Dit was die Pumas se swakste vertoning in baie wedstryde, gekenmerk deur ʼn magdom hanteerfoute, verkeerde besluitneming, swak spel in die los en lynstane en ʼn gebrek aan ondernemingsgees.

Dalk was dit net die regte medisyne waarop Stonehouse-hulle gewag het, want sy talentvolle spelers, wat die afgelope paar weke op die kruin van die golf gery het nadat hulle verlede jaar die Curriebeker gewen het, het straks in ʼn gemaksone begin verval.

Wat sake nog erger maak, is dat die Haaie se een stut Dian Bleuler en die lang flank Corné Rahl tydens dieselfde beweging onderskeidelik met ʼn geel en rooi kaart gestraf is.

Rahl het André Fouche van die Pumas met die kop gestamp. Ja, hy het hom skaars getref, maar daar was kontak en volgens die reëls is dit rooi.

Rahl het baie talent, maar hy sal sy humeur in toom moet hou.

Van nou af sal sy teenstanders dit probeer uitbuit deur hom uit te lok.

Ondanks die terugslae was dit suikersoet vir die tuisspan op ʼn aand waar Ian Mac gehuldig is.

Dit was die Haaie se beste vertoning vanjaar en van die jong spelers het hul hande opgesteek en gewys dat hulle met die regte ingesteldheid en afrigting boontoe kan beur.

Vir die Pumas is dit terug tekenbord toe. Hulle het ʼn baie groot les geleer en sal moet besef dat geen teenstander onderskat kan word nie.

Enige span is net so goed soos in sy laaste wedstryd. Dit is ʼn cliché, maar Vrydagaand op Kingspark het dit opnuut gestalte gekry.

Puntemakers: Haaie 19 (16): Drie: Tiaan Fourie. Doelskop: Fred Zeilinga. Strafdoele: Zeilinga (4).

Pumas 12 (0): Drieë: Strafdrie (7 punte), Llewellyn Classen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.