Opwindende hardlooprugby op Loftus Versfeld, teenoor ʼn stroewe voorspelerstryd in Bloemfontein, was die kenmerke van Saterdag se Curriebeker-rugby.
Die Blou Bulle en die Goue Leeus het elk vyf drieë gedruk, maar laasgenoemde het op die ou end naelskraap met 38-35 gewen, nadat hulle rustyd met 21-28 agter was.
Dit was langafstanddrieë, skouspelagtige drieë, maar dikwels opportunisties, met ʼn gebrek aan planmatigheid.
Ruan Steenkamp, ’n Blou Bulle-flank, het drie van sy span se drieë gedruk.
Shaun Reynolds, die Leeus se losskakel, het ʼn drie gedruk, vyf verdoel en met ʼn strafdoel daarin geslaag om 18 punte vir die wenspan op die telbord te plaas.
♦ In Bloemfontein het die Vrystaat goeie veggees getoon in ʼn wedstryd wat min hardlooprugby opgelewer het, en grootliks voorlangs uitgespook is.
Die Sharks het deurentyd gesorg dat hulle net-net voor die tuisspan bly, en het met 33-29 gewen nadat hulle rustyd met 15-12 voor was.
Die feit dat hulle nie verder kon wen nie, beteken dat die Westelike Provinsie, met ʼn beter batige puntesaldo, die voortou in die reeks behou.
Die Vrystaters het min besit gekry, en hul stereotipe-agterlyn het nie sake verbeter nie.
Hul losskakel Louis Fouché moes ʼn groot deel van die taak op sý skouers neem, en is as die speler van die wedstryd aangewys. Hy het twee drieë gedruk, twee verdoel en met ʼn skepdoel geslaag, vir 17 punte.
♦ ʼn Verrassende sege van 56-52 oor die Griffons, die verdedigende kampioen, in Welkom, plaas die Valke boaan die punteleer in die Curriebeker- Eerste Liga.
Die Luiperds, met ʼn bonuspunt minder, is in die tweede plek.
Die puntemakers –
Blou Bulle 35 (28) – Drieë: André Warner, Ruan Steenkamp (3), Johnny Kotzé. Doelskoppe: Manie Libbok (5).
Goue Leeus 38 (21) – Drieë: Shaun Reynolds, James Venter, Dillon Smit, Hacjivah Dayimani (2). Doelskoppe: Shaun Reynolds (5). Strafdoel: Shaun Reynolds.
Vrystaat 29 (15) – Drieë: Louis Fouché (2), Lloyd Greeff, strafdrie. Doelskoppe: Louis Fouché (2). Skepdoel: Louis Fouché.
Sharks 33 (12) – Drieë: Lwazi Mvovo, Chiliboy Ralepelle (2), Wihan Vosloo, Daniël du Preez. Doelskoppe: Robert du Preez (4).
DSTV is killing rugby!