Highlanders-blitzkrieg tref Waratahs

Die Highlanders se Waisake Naholo. Foto: Facebook.

Ses drieë binne die eerste 40 minute van vandag se Highlanders/Waratahs-stryd op Rugbypark het gesorg dat die Nieu-Seelanders die wedstryd op ’n drafstap met 49-12 gewen het.

En hoewel daar weinig punte in die tweede helfte aangeteken is, was die skade reeds in die eerste helfte gedoen.

Om die vorige stelling in perspektief te plaas: Die Highlanders het reeds hul bonuspunt in die 20ste minuut van die wedstryd gekry!

Die Highlanders het die eerste 40 minute heeltemal oorheers – van Josh McKay se openingsdrie tot Teihorangi Walden se poging toe die rustydsirene reeds in die agtergrond geloei het.

Hoewel die Australiërs beter in die tweede helfte vertoon het (die telling was 7-5 in dié helfte), was Rob Thompson se drie die finale spyker in ’n Waratahs-doodskis wat lank reeds toegekap was.

Die uitslag sorg dat die Highlanders 36 punte ná hul 16 wedstryde het.

Puntemakers:

Highlanders: Drieë: Josh McKay, Tevita Li, Thomas Franklin, Waisake Naholo, strafdrie, Teihorangi Walden, Rob Thompson. Doelskoppe: Josh Ioane (6).

Waratahs: Drieë: Alex Newsome, Mack Mason. Doelskop: Mason.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico K ·

Kan iemand vir my verduidelik hoe werk die punteleer. Op die oomblik het die Bulle, Chiefs en Highlanders dieselfde aantal punte nl. 36. Die Highlanders se punteverskil tussen punte aangeteken en punte afgestaan is die beste. Maar hulle lê laaste van die drie. Hoekom?

Frans C ·

@ Nico K
Dit is die konferensiestelselsel wat dinge so skeef trek. Wenners van konferensies kry
tuis wedstryde ongeag die aantal punte wat hul op die algehele punte leer het.

Die Hurricanes het bv 49 punte maar is 2de in die NZ konferensie. Daarom sal die
Jaquares en Brumbies wat minder punte op die stadium het, bo die Hurricanes geplaas word omdat hul by tye van die kommentaar voorlopers in onderskeidelik die SA en Aussie konferensies was,

As jy dus in ‘n baie swak konferensie speel kan jy bv teoreties heel laaste op die algehele punteleer wees maar tog kwalifiseer vir die uitspeel rondtes. net omdat jy die swakste konferensie wenner was.
Dan kry jy op die koop toe nog ‘n beker ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.