Hoekom sal skole-afrigters tyd op vaardighede waag?

Hantering (Foto GBJordaan.jpg)

Hantering (Foto GBJordaan.jpg)

Dit is seker so na aan amptelik as wat ʼn mens dit kry, dié beroep Donderdag van Oregan Hoskins dat Suid-Afrika se skole-afrigters hulle deel moet doen om die aanvalsvaardighede van Suid-Afrikaanse spelers te verbeter.

Dit is goed, hoewel miskien ʼn tikkie laat van heel bo af. Maar dit is natuurlik niks nuuts nie, want Rassie Erasmus, tot onlangs die hoofbestuurder van Suid-Afrikaanse rugby, sou dit ook oor jare (probeer) oordra het.

Daar is ongelukkig die nare werklikheid dat daar weinig gehoor aan gegee sal word. En waar dit wel gebeur, het die Lions en Leeus, en nou ook die Bulls en Blou Bulle, gewys dat dit tyd verg om vaardighede vir spelers aan te leer; en veral ook om ʼn nuwe patroon by hulle tuis te bring.

Dan is daar die ander werklikheid: hoekom sal ʼn groot gros van die skole-afrigters die loopbaankans waag om ʼn minder konserwatiewe spel te speel?

Mooi rugby, en mooi en meer drieë, sal  tot meer foute lei – veral waar die vaardighede nog nie deur die spelers onder die knie gekry is nie. Dit weet ons almal.

Vir die skole se onderskeie hoofafrigters, of direkteure van rugby, hang hulle posisies en werk in baie gevalle van oorwinning af. Gaan so ʼn man sommer dadelik oorslaan?

♦  Hoskins het wel nie gesê die skole-afrigters moet begin hardlooprugby speel nie; net dat hulle hul spelers vaardighede moet aanleer.

Nou wonder jy waar hulle die tyd daarvoor gaan kry. Daar is skrums, lynstane, afbreekpunte, verdediging (wat by die Cravenweek en die Akademieweek maar bra middelmatig was) en die gewilde rolmaal sonder sy gevare waaraan gewerk moet word. Voeg hierby die inoefen van bewegings.

Hoe en wanneer gaan die skole se senior spelers tussendeur vaardighede aangeleer word? Hanteerwerk, rolskoppies, spasie identifiseer, aanvoeling om die regte lyne te hardloop…

Dit sal tyd verg. Drie jaar of so. Soos Hoskins oor SA (senior) rugby gesê het: die vaardighede kan nie van bo aangeleer word nie, dit moet van onder af ingeoefen word.

Die vaardighede sal ongetwyfeld reeds van laerskooldae af ingeoefen moet word. Drie jaar is wat dit die Lions en Leeus geneem het om met vertroue te begin hardloop met die wete dat hulle met vertroue sal kan vang en uitgee.

Die Bulls/Bulle is nog in die oorgangsproses. Hulle afrigter Nollis Marais wéét en het gewaarsku dit gaan tyd neem. Daar is al tekens dat hulle meer (wil) hardloop, maar soos dit waarskynlik op skolevlak sal wees waar hulle sommer volgende jaar al wil begin hardloop, val die span terug op ʼn patroon van veiligheid eerste wanneer die druk toeneem.

En dan laastens: hoekom speel die WP en die Stormers nie meer opwindende rugby nie? Dit is immers die Wes-Kaapse skole wat met vernuwing, vernuf en spelpeil die afgelope die pas aangee, en nou ook die Goue Leeus as hulle onlangse Cravenweek-vertonings in ag geneem word.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Vaalseun ·

Ons het smiddae langs die veld op Coetzenburg gestaan en kyk en luister hoe Dok Craven die 1ste spanspelers afrig, wat Springbokke ingesluit het. En hoe hy saam met die koshuisrugbyafrigters met nuwe rugbyreëls eksperimenteer. Terwyl hy die SARugbyraad en die IRR met sy rugbykundigheid gelei het. Hoskins kan gerus ook sy onbaatsugtige bydrae om rugby te ontwikkel smiddae op ‘n skolerugbyveld ten toon stel, soos Dok Craven, wat sekerlik altyd dié rolmodel vir enige internasionale en plaaslike rugbybaas, en rugbyafrigter sal bly.

Vaalseun ·

Ons het smiddae op Coetzenburg gekyk en geluister hoe Dok Craven die 1ste Spanspelers, wat Springbokke ingesluit het, afrig. En saam met die koshuisrugbyafrigters en skeidsregters met nuwe rugbyreëls eksperimenteer. Dit, terwyl Dok Craven die SARugbyraad en die Internasionale Rugbyraad met sy rugbykundigheid gelei het. Dalk wil Hoskins ons ook vergas deur sy onbaatsugtige afrigtingsdiens aan rugby smiddae ten toon te stel op ‘n skolerugbyveld.

juan ·

baie van die Springbokke van so 20 jaar gelede het na-skoolse & professionele kwalifikasies gehad – vergelyk dit met vandag se SA spelerskorps waarvan slegs 3% na-skoolse kwalifikasies het. Miskien is dit dan een van die redes waarom afrigters vandag dit so moeilik vind om die spelers vaardighede & verskillende spel patrone te leer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.