Ierland wen en Bokke is deur

Pure Ierse jolyt. Ierland het vir Skotland met 36 – 14 in ’n belangrike Wêreldbeker-groepwedstryd op die Stade de France geklop. (Foto: Thomas Samson/AFP)

Indien jy op jou senuwees was dat die Springbokke se uitspeelronde-partytjie dalk vanaand op die Stade de France bederf kon word; moenie bekommer nie, jy kan maar rustig gaan slaap.

Ierland het sopas vir Skotland met 36 – 14 oorrompel om as die wenners van Groep B uit die stryd te tree, gevolg deur die Springbokke met hul 15 punte ná vier wedstryde.

Dit beteken dat Johnny Sexton-hulle  volgende naweek teen die All Blacks in een van die kwarteindstryde te staan kom, terwyl Frankryk vir Suid-Afrika in die ander uitspeelwedstryd wag.

Die Iere het die stomme Skotte nou onder volgehoue druk geplaas en James Lowe het sommer binne 65 sekondes die eerste drie van die wedstryd gedruk.

Daar is ʼn magdom wapens in Ierland se aanvalsarsenaal en ʼn kort rukkie later het Hugo Keenan die eerste van sy twee drieë gedruk toe hy oor die Skotte se doellyn gegly het.

Die bonuspunt vir vier drieë was reeds net voor rustyd in die sakkie en die Iere het ʼn waterdrink-voorsprong van 26 – 0 geniet.

Daar was ʼn groot bohaai opgeskop in aanloop tot die kragmeting oor Skotland se vermoë om saam met die groot rugbyhonde te blaf.

Nou ja, dit was veel eerder ʼn skoothondjie- as ʼn bulhondvertoning en hul aand is eintlik perfek opgesom toe Ollie Smith met ʼn geel kaart van die veld gestuur is omdat hy vir Sexton gepootjie het.

Die doedelsakspelers kon darem ná 60 minute se spel vlamvat toe Ewan Ashman en Ali Price die Ierse verdediging uiteindelik geflous het.

Maar toe was dit reeds te laat; die Iere het lank reeds begin feesvier.

Ierland het weliswaar nog nooit verder as die kwarteindstryd van ʼn Wêreldbeker-toernooi gevorder nie, maar hulle is ʼn goedgeoliede masjien wat sterkpuntrugby speel.

Hulle gaan moeilik gestuit word.

  • Puntemakers:

Ierland: Drieë: Hugo Keenan (2), James Lowe, Iain Henderson, Dan Sheehan en Garry Ringrose. Doelskoppe: Johnny Sexton (3).

Skotland: Drieë: Ewan Ashman en Ali Price. Doelskoppe: Finn Russell.

  • Groep B-punteleer:
  1. Ierland: 19 punte ná vier wedstryde
  2. Suid-Afrika: 15 punte ná vier wedstryde
  3. Skotland: 10 punte ná vier wedstryde
  4. Tonga: geen punte ná drie wedstryde
  5. Roemenië: geen punte ná drie wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.