Ierse rugbyondersteuners kan maar trots wees

Ierland het die Sesnasiesreeks onoorwonne afgesluit. (Foto: Paul Faith/AFP.)

ʼn Mens kan seker Ierse rugbyondersteuners verskoon as hulle tans oor ʼn oormaat selfvertroue beskik.

Munster is die Verenigde Rugbykampioenskap-wenner nadat dié span die Stormers in Kaapstad geklop het, Leinster het in die eindstryd van die Kampioenebeker gespeel en Ierland is die Sesnasies-kampioenspan.

Hulle tel ook onder die gunstelinge om die Webb Ellis-trofee later vanjaar in Frankryk omhoog te hou en met die oog op dié internasionale skouspel het Andy Farrell ʼn oefengroep van 42 spelers bekend gemaak.

Leinster en Munster spog natuurlik met die meeste spelers in die groep, terwyl Ulster en Connacht ook vir ʼn paar spelers spog.

Daar is egter geen plek vir Jean Kleyn nie.

Die Suid-Afrikaans gebore slot het reeds in vyf toetse vir Ierland uitgedraf, terwyl hy al 136 keer vir Munster in aksie was. Hy was ook een van die Ierse klub se bestendigste spelers in hul suksesvolle VRK-veldtog.

Munster is die VRK-kampioenspan. (Foto: Hansie Linde)

Ierland sal teen Roemenië en Tonga kragte in Frankryk meet voordat daar op 23 September teen Suid-Afrika op die Stade de France swaarde gekruis word.

Hoewel die Iere nog nooit die Wêreldkampioenspan was nie – hulle verloor alewig stoom in die kwarteindstrydrondes – kan hulle beslis nie onderskat word nie.

Volgens Kobus Wiese is dit juis Ierland se veggees wat van hulle gedugte teenstanders maak.

“Hulle skram nie weg van ʼn fisieke tweestryd nie, hulle speel tegnies baie goeie rugby en hulle het gewys dat hulle drieë kan druk. Ek dink Ierland het ongetwyfeld hul spelvlak gelig en, met die oog op die Wêreldbeker, is hulle besig om op die regte tyd vlam te vat,” het die voormalige Springbok-slot vroeër vir Maroela Media gesê.

  • Ierland-oefengroep:

Voorspelers: Ryan Baird, Finlay Bealham, Tadgh Beirne, Jack Conan, Gavin Coombes, Caelan Doris, Tadgh Furlong, Cian Healy, Ian Henderson, Rob Herring, Ronan Kelleher, Dave Kilcoyne, Joe McCarthy, Peter O’Mahony, Tom O’Toole, Andrew Porter, Cian Prendergast, James Ryan, Dan Sheehan, Tom Stewart, Kieran Treadwell en Josh van der Flier.

Agterspelers: Bundee Aki, Caolin Blade, Ross Byrne, Craig Casey, Jack Crowley, Keith Earls, Ciaran Frawley, Jamison Gibson-Park, Mack Hansen, Robbie Henshaw, Hugo Keenan, James Lowe, Stuart McCloskey, Conor Murray, Calvin Nash, Jimmy O’Brien, Jamie Osborne, Garry Ringrose, Johnny Sexton en Jacob Stockdale.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.