Ikeys draai driedrukkrane gróót oop

Ikeys het meer as 90 punte teen die Universiteit van Wes-Kaapland aangeteken. (Foto: X/Varsitybeker)

Dit was oudergewoonte ʼn aksiebelaaide Maandag met ʼn paar opwindende Varsitybeker-wedstryde. Die NWU-Pukke, Maties en UJ het as oorwinnaars van die veld gestap, terwyl Ikeys meer as 90 punte teen die Universiteit van die Wes-Kaapland aangeteken het.

Ikeys draai die driedrukkrane groot oop

Ikeys het ʼn rits sewepuntdrieë gedruk om die Universiteit van Wes-Kaapland met 91 – 9 in Bellville te oorrompel.

Luke Burger het vier drieë in die kragmeting gedruk en die Kaapstad-span beklee tans die tweede plek op die amptelike punteleer.

  • Puntemakers:

Ikeys: Drieë: Luke Burger (4), Keagan Blanckenberg (2), Mika Schubert (2), Joshua Miller, Ntokozo Makhaza, Tian Vorster en Alexander Vermeulen. Doelskoppe: Makhaza (5) en Vermeulen (3).

UWK: Drie: Hlomla Ncana. Doelskop: Aaron Swartz.

Pukke staan sterk in Bloemfontein

ʼn Rooi kaart en ʼn vurige tuisspan-terugvegpoging ná rustyd het nie die NWU-Pukke van stryk gebring nie en hulle het die Ixias met 53 – 46 in Bloemfontein geklop.

Die Potchefstroomse studente het – selfs nadat Miyelani Ngobeni vir ʼn gevaarlike duikslag van die veld gestuur is  – ʼn rustydvoorsprong van 37 – 12 geniet.

Ná die asemskepsessie moes hulle egter op verdediging bontstaan, maar hulle het genoeg gedoen om die wedstryd te wen.

  • Puntemakers:

NWU-Pukke: Drieë: Tian van Zyl (2), Arnold Vlok, Matome Manyama, Naiden Jaarts, Luan van der Walt en Calvin Clack. Doelskoppe: Zinedine Robinson (7).

Ixias: Drieë: Mamello Moshoaliba, Zac Bester, Adielson Gouveia en Jan-Hendrik Bessenger. Doelskoppe: Juan Smith (4). Strafskoppe: Smith (3).

Marais behaal driekuns teen Shimlas

In nóg ʼn Bloemfontein-kragmeting het Maties die Shimlas se wenlopie kortgeknip. Die Stellenbosch-studente het die wedstryd met 38 – 29 gewen.

Dewet Marais het ʼn driekuns van drieë vir die besoekers behaal.

  • Puntemakers:

Maties: Drieë: Dewet Marais (3), Hofmeyr Retief, Eric Basson en Jacobus Nel. Doelskoppe: Juan Mostert (4).

Shimlas: Drieë: Michael Annies, Pierre Uys, Neels Volschenk en Jandré Nel. Doelskoppe: Ethan Wentzel (2). Strafskop: Wentzel.

UJ wen Johannesburg-derby

Die Universiteit van Johannesburg het sy eerste oorwinning van die toernooi behaal toe hy vir Wits met 49 – 26 geklop het.

Die tuisspan het ses drieë op die UJ-stadion gedruk en hulle het ná die eerste helfte met 16 – 12 voorgeloop.

  • Puntemakers:

UJ: Drieë: Sfiso Dlamini (2), Kurtley Kiewiet, Likhona Finca, Connor van Buuren en David Cary. Doelskoppe: Kiewiet (5) en Rowan Malgas. Strafskop: Kiewiet.

Wits: Drieë: Dewet Lottering, Dustyn Holmes, Luhle Matyolweni en Setshaba Mokoena. Doelskoppe: Mokoena (2) en Tireque Apolles.

  • Varsitybeker-punteleer:
  1. NWU-Pukke: 25 punte ná ses wedstryde
  2. Ikeys: 23 punte ná ses wedstryde
  3. Maties: 23 punte ná ses wedstryde
  4. Shimlas: 23 punte ná ses wedstryde
  5. Wits: 14 punte ná ses wedstryde
  6. Ixias: 12 punte ná ses wedstryde
  7. UJ: 8 punte ná ses wedstryde
  8. UWK: 1 punt ná ses wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.