Jasper Wiese blink uit vir Tigers

Jasper Wiese (Foto: Twitter)

Suid-Afrika se spens van losvoorspelers is stampvol en vir talle van die uitblinkers is daar nie eers plek in die Springbokgroep nie. Een van hulle is Jasper Wiese wat aangewys is as die speler van die wedstryd in die roemryke eindstryd van die Engelse Premierskap.

Wiese was gister ʼn sleutelspeler in Leicester Tigers se oorwinning van 15 – 12 oor Saracens op ʼn volgepakte Twickenham in Londen. Hy het een van sy span se twee drieë gedruk. Boonop het nog ʼn Suid-Afrikaanse losvoorspeler, Hanro Liebenberg, die enigste ander drie van die wedstryd vir die Tigers gedruk.

Die uitslag is eers in die doodsnikke beslis toe losskakel Freddie Burns ʼn skepskop tussen die pale deurgejaag het. Burns het vir George Ford in die eerste helfte vervang nadat hy beseer is. Hy kon nie Wiese se drie verdoel nie en het ook met ʼn strafskop pale toe misluk.

Dit is Leicester se elfde titel, maar hulle eerste sedert 2013.

In ander rugbynuus kan Nieu-Seeland se veteraan-slot Sam Whitelock volgende maand se toetsreeks teen Ierland weens ʼn gebreekte duim misloop. Hy het in gister se eindstryd van die Superrugby Stille Oseaan-toernooi met die besering gespeel. Sy span, die Crusaders, het die Blues 21 – 7 op Eden Park geklop.

Die All Blacks se eerste toets teen die Iere is op 2 Julie op Eden Park. Die tweede toets word op 9 Julie in Dunedin beslis en die laaste een op 16 Julie in Wellington.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.