Jong Cheetahs verras teen Pumas

Foto: Twitter via CheetahsRugby.

Dit was nie een van die blinkste vertonings wat in die annale van Cheetahs-rugby opgeteken sal word nie, maar as dit van durf en vasbyt afhang, is daar min dinge wat die Vrystaters se oorwinning oor die Pumas Vrydag kan klop.

Die Cheetahs het die Pumas Vrydag met 17-16 tydens ʼn  Curriebekerwedstryd in Bloemfontein geklop.

Die Cheetahs, wat hul eerste wedstryd in die reeks met 10-31 teen die Griekwas verloor het, se tweede wedstryd is vanweë die Covid-19-pandemie afgelas.

Twee wedstryde “gespeel” en niks om daarvoor te wys nie.

Die koronavirus het sy kloue baie diep ingeslaan en tien spelers, asook die afrigter, Hawies Fourie, was nie Vrydag beskikbaar nie omdat hulle steeds in isolasie is.

Voeg daarby sewe ander spelers wat weens beserings nie oorweeg kon word nie en twee geel kaarte aan Jeandré Rudolph en Conrad van Vuuren (wat tot ʼn strafdrie gelei het) en dié oorwinning is beslis noemenswaardig.

Watter ander span, indien enige, sou sonder 17 van hul topspelers kon klaarkom, veral as hul spelerspens boonop deur die groter unies gestroop word?

Die Cheetahs se jongelinge het saam met die ou hande soos Clayton Blommetjies, Ruan Pienaar en Jacques Potgieter vasgebyt.

Die losskakel-aanwins Brandon Thomson het ook ʼn groot rol gespeel en rigting gegee aan die jong senters en vleuels langs hom.

Ja, daar was heelwat foute, maar ons praat nie hier van gesoute Superrugbyspelers en Springbokke nie.

Die Pumas het darem ʼn bonuspunt ingeoes, maar hulle het ʼn gulde kans verbrou om die verrassende voorloper in die reeks te word.

Hulle het nie afgewyk van hul spelpatroon om voor sag te maak en met rolmaalbewegings veld te wen nie, maar hul oorywerigheid, swak hantering en ewe swak besluitneming het hulle in die steek gelaat.

Punte: Cheetahs: 17 (3): Drieë: Ruan Pienaar, Lesley Botha. Doelskoppe: Pienaar (2). Strafdoele: Pienaar.

Pumas 16 (6): Drie: strafdrie (7 punte). Strafdoele: Eddie Fouche (3).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

quartus ·

Die Cheetas het die Pumas ‘ tydens” n curriebeker wedstryd geklop? Huh ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.