Julian Redelinghuys was die vernaamste wenner toe die Goue Leeus Rugbyunie Woensdagaand hulle topspelers vir 2016 by Carnival City vereer het.
Redelinghuys, wat die Springbokke reeds agt keer verteenwoordig het, is bekroon as speler van die jaar. Die toekenning sal waarskynlik maak dat Redelinghuys die 2016-seisoen met gemengde gevoelens onthou.
Hy is in die Goue Leeus se Curriebeker-halfeindstryd teen die Cheetahs met ’n draagbaar van die veld gedra nadat hy sy nek in ʼn duikslag ontwrig het, iets wat sy loopbaan in die weegskaal geplaas het.
Warren Whiteley, kaptein van die Lions in eindstryd van die Superreeks, is die unie se Superrugbyspeler van die jaar.
Die slot Franco Mostert en die losskakel Elton Jantjies, wat albei deel was van die Lions se suksesvolle Superrugby-veldtog, is onderskeidelik as die Lions se voorspeler en agterspeler van die jaar in die Superrugby-kompetisie aangewys.
Twee spelers wat hulle Springbok-buiging in 2016 gemaak het, die haker Malcolm Marx en die senter Rohan Janse van Rensburg, het onderskeidelik met die toekennings as die spelers se speler van die jaar en die ondersteuners se speler van die jaar weggestap.
Die toekennings –
Xerox Goue Leeus-toekennings
Voorspeler van die jaar: Ruan Ackermann
Agterspeler van die jaar: Anthony Volmink
Speler van die jaar: Jacques Nel
Emirates Lions Superrugby-toekenning:
Voorspeler van die jaar: Franco Mostert
Agterspeler van die jaar: Elton Jantjies
Speler van die jaar: Warren Whiteley
Leeus Rugbymaatskappy-toekennings:
Ondersteuners se speler van die jaar: Rohan Janse van Rensburg
Spelers se speler van die jaar: Malcolm Marx
Speler van die jaar: Julian Redelinghuys
Baie geluk aan almal wat toekenings gekry het, maar julle almal die hele span kon net sowel met die toekening van speler van die jaar weggestap het. LIONS!!!!!!