Kitshoff is pure goud

Steven Kitshoff het Saterdag die wedstryd vir Ulster gewen. (Foto: X/Ulster)

In die ou dae was stutte se werk byna net om te skrum en in die lynstane te ondersteun, soos Mof Myburgh, Hempies du Toit en Tommie Laubscher.

Deesdae is stutte soos Steven Kitshoff goud werd, want hulle voer steeds hul pligte in die vaste fasette uit, maar hulle het die vaardighede van ʼn agterspeler, hul hantering is uitstekend en hulle is van die beste verdedigers op die veld.

Dis hoekom Ulster die boerpot geslaan het toe hulle die Springbok-loskopstut ná die Kingspan-stadion in Belfast in Noord-Ierland gelok het.

Kitshoff was een van Ulster se sterre in Saterdagaand se bonuspunt-oorwinning van 31-15 oor Racing 92, vir wie die Springbokkaptein, Siya Kolisi, gespeel het, maar veel minder inpak gemaak het.

Kitshoff was in sy eerste tuiswedstryd in die Europese Kampioenebeker vir sy nuwe klub ʼn rots in die skrums, hy het verskeie kere die bal gedra en puik aansluiting by sy agterspelers gevind. Boonop het hy die Franse se besit in die los vertraag en ʼn paar van hulle se nerwe afgeduik.

Soos hulle sê, 120 kilogram se pure boeliebief.

Ulster het die afgelope paar weke in die skrums gesukkel, maar Kitshoff het die nuwe maatstaf gestel en saam met die oud-Ikey, die haker Rob Herring, die Franse na Parys terug laat verlang.

Puntemakers: Ulster 31: Drieë: Nick Timoney (2), Stuart McCloskey, Matty Rea. Doelskoppe: John Cooney (4). Strafdoel: Cooney.

Racing 92 15: Drieë: Janick Tarrit (2), Nolann le Garrec.

* In van Saterdag se ander wedstryde in die Europese Kampioenebeker- en Uitdaagbekerreeks het verskeie Suid-Afrikaners ook uitgemunt.

Edinburgh se vleuel Duhan van der Merwe het twee drieë vir sy span gedruk om hulle tot ʼn oorwinning van 34-21 oor Castres te voer.

* In Treviso het die oud‑Puk en ‑Haai, Rhyno Smith, Benetton se voorste driedrukker in Europese reekse geword toe hy twee drieë (sy sewende vir Benetton) in die oorwinning van 29-7 oor Perpignan gedruk het.

* Bath se agtsteman Jaco Coetzee, het twee drieë gedruk in sy span se oorwinning van 39-32 oor Cardiff. Die losskakel Thinus de Beer het 12 punte vir Cardiff aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.