Kolbe gereed vir ‘nuwe hoofstuk’

Cheslin Kolbe. (AP Photo/Mark Baker)

Hy mag dalk net 1,71 m in sy sokkies staan en 75 kg weeg, maar Suid-Afrika se rugby-Dawid gaan ʼn Goliat in Japan word.

Cheslin Kolbe het ʼn kontrak met die Suntory Sungoliath-span in Japan onderteken nadat sy paadjie verlede maand met Toulon geskei het.

“Ek is baie opgewonde om te bevestig dat ek deel van die Suntory Sungoliath-opset ná vanjaar se Wêreldbeker sal word. Dít is ʼn nuwe hoofstuk en uitdaging in my loopbaan en ek wil almal bedank wat die skuif moontlik gemaak het,” het hy gesê.

Volgens die Springbok-vleuel spog sy nuwe klub met ʼn indrukwekkende rugbygeskiedenis en hy sal graag tot die span se sukses wil bydra.

Daar was vroeër gerugte dat Kolbe ʼn aanbod van die Stormers van die hand gewys het, maar die Kaapse rugbyunie het intussen bevestig dat daar gʼn vuurtjie by dié rokie brand nie.

“Daar was ʼn informele gesprek oor Cheslin se beskikbaarheid en sy belangstelling om by die span aan te sluit,“ het die Stormers in ʼn amptelike verklaring bekend gemaak.

Die unie het egter die punt onderstreep dat daar in geen stadium ʼn verbintenis tot enige betalingsyfer of ander kontraktuele besonderhede was nie en dinge het nie verder as die aanvanklike gesprek gevorder nie.

“Cheslin Kolbe is een van die wêreld se voorste rugbytalente en ʼn trotse produk van ons rugbysisteem, maar daar is nooit enige amptelike aanbod gemaak nie; nóg aan hom nóg aan sy verteenwoordigers.”

Hoewel dit nog nie amptelik bevestig is nie, word daar berig dat die Suid-Afrikaner tot R18 miljoen per jaar in Japan kan verdien.

Kolbe het vroeër op sosiale media gedeel dat hy hartseer is om Frankryk ná ses jaar te groet.

“Party mense sal dit nie verstaan nie – ek inkluis – maar daar is aan my gesê dat dit ʼn ‘sakeonderneming’ is. Ek wil almal bedank wat my pad gekruis het; van die ondersteuners tot my spanmaats. Dit is nie maklik vir my om totsiens te sê nie, maar dit is hoe die lewe is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.