Vlugvoetige Kolbe en Toulon se paadjies skei

Cheslin Kolbe se paadjies het met Toulon geskei. (Foto: Gaizka Iroz/AFP)

Cheslin Kolbe, die speler wie se pypkan-vaardighede onder meer die All Blacks en Engelsmanne tydens die 2019-Wêreldbeker gemesmeraais het, het Toulon vaarwel geroep.

Volgens die Franse klub is daar onderling met Kolbe ooreengekom om hom van sy verpligtinge vry te stel.

Op sy beurt het die Suid-Afrikaner aangedui dat hy graag nog deel van die klubopset wou bly. Die 29-jarige Springbok het in 2021 Toulouse vir Toulon verruil en hy het vanjaar, ondanks ʼn enkelbesering, ses drieë vir sy span gedruk.

Hy het ook in die eindstryd van die Europese Uitdaagbeker teen die Glasgow Warriors ʼn barshou gespeel.

Sy vaart, kul-jou-hier-en-kul-jou-daar-lopies en ongekende vermoë om kanse vir sy spanmaats te skep was van die wedstryd se groot hoogtepunte.

Gʼn wonder Toulon het die eindstryd met 43 – 19 gewen nie.

“Ek sou daarvan gehou het om by Toulon aan te bly, maar die finansiële beperkings op klubs en beserings het dinge bemoeilik,” het Kolbe op die klub se amptelike webblad gesê.

Volgens Toulon sal die blitsige agterlynbuksie weldra ’n aankondiging oor sy toekoms maak. Daar word egter al vir ’n hele ruk in die Franse media bespiegel dat hy by die Suntory Sungoliath-span in Japan kan aansluit.

Die klub het bevestig dat Kolbe vandeesweek op sy jaareindpartytjie vereer sal word.

Intussen het die voormalige Blitsbok-speler op sosiale media gesê dat hy ’n emosionele paar weke agter die blad het. Frankryk was immers die afgelope ses jaar sy tuiste.

“Party mense sal dit nie verstaan nie – ek inkluis – maar daar is aan my gesê dat dit ‘ ’n besigheid’ is. Ek wil almal bedank wat my pad gekruis het; van die ondersteuners tot my spanmaats. Dit is nie maklik vir my om totsiens te sê nie, maar dit is hoe die lewe is.”

  • Kolbe het reeds 11 drieë in sy 23 Springbok-toetse gedruk, terwyl hy verlede November saam met spelers soos Faf de Klerk en Damian Willemse die Bokke se stelskoppligte in Handré Pollard se afwesigheid oorgeneem het.

Hy is ongetwyfeld ook een van die gewildste spelers in die nasionale span.

“Cheslin was briljant en hy sorg vir soveel energie. Terselfdertyd is hy een van ons belangrikste spelers en hy was oudergewoonte weer oral op die veld – dit is wonderlik om hom in die vyftiental te hê,” het Lukhanyo Am destyds ná die reeks teen die Britse en Ierse Leeus gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Kolbe is ‘n wedstryd wenner, maar die besering spook veroorsaak dat hy onbekostigbaar geword het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.