Kolbe meen Hane kan in WB kraai

Cheslin Kolbe. (AP Photo/Eugene Hoshiko)

Cheslin Kolbe meen dat dit moeilik sal wees om vir Frankryk in volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi te stuit.

“Ek dink in die aanloop tot die toernooi is Frankryk beslis die gunstelingspan om met die louere weg te stap. Die feit dat hulle gasheerstatus geniet, tel ook in hul guns,” het die Springbokvleuel in ʼn onderhoud met ʼn Franse TV-stasie gesê.

Volgens Wêreldrugby se jongste ranglys is Ierland die voorste span op die internasionale verhoog, gevolg deur die Fransmanne en die Springbokke.

Les Bleus is egter tans op die kruin van die rugbygolf – hulle het in November vir Nieu-Seeland gewen, terwyl hulle vroeër vanjaar vir die eerste keer in 12 jaar die Sesnasiestrofee omhoog gehou het.

“Die Wêreldbeker begin oor 11 maande en die tyd het omtrent gevlieg. Dit sal goed wees vir die Springbokke om die titel te verdedig, maar Frankryk het uitstekend in die Sesnasies gespeel.”

Vlok Cilliers is deesdae die Fransmanne se skopafrigter en hy glo ook dat die gasheerland gedugte teenstanders kan wees.

Antoine Dupont. Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP.

“Frankryk het ’n goeie kans in die Wêreldbeker; ons is besig om ’n spesiale span te skep. Natuurlik is daar ander spanne wat ook aanspraakmakers is, maar die Franse het ’n talentvolle groep spelers en hulle is op die regte pad,” het die voormalige Springbok gesê.

Antoine Dupont is ongetwyfeld een van die Hane se groot gevaarmanne. Hy is in 2021 as Wêreldrugby se speler van die jaar aangewys en die Suid-Afrikaanse skopmeester is beïndruk met die jong skrumskakel se vaardighede.

“Antoine is werklik goed, hy is ’n speler van wêreldgehalte met ongelooflike werksetiek. Terselfdertyd is hy ook nederig en ’n baie goeie leier. Ek het al baie talentvolle spelers in my lewe afgerig, maar nog niemand soos hy nie. Soos die Engelsman sou sê: Hy is die complete package.”

Ranglys:

  1. Ierland: 90,03 punte
  2. Frankryk: 89,41 punte
  3. Suid-Afrika: 89,00 punte
  4. Nieu-Seeland: 87,30 punte
  5. Engeland: 86,25 punte
  6. Skotland: 81,93 punte
  7. Wallis: 81,28 punte
  8. Argentinië: 81,21 punte
  9. Australië: 80,65 punte
  10. Japan: 77,74 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.