Kolbe mik na Ellispark-eerste

Cheslin Kolbe duik oor vir sy drie teen die All Blacks. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Sekere spelers beskik oor die unieke vermoë om pawiljoene voller te maak en ondersteuners op die punte van hul stoele te laat sit wanneer hulle die bal in die hande kry.

Dink aan Bryan Habana, Dan Carter en Danie Gerber. Deesdae spog die Springbokke met X-faktorspelers soos Cheslin Kolbe en Kurt-Lee Arendse.

Boonop is die vlugvoetige Kolbe oorgehaal om sy toorkunsies die naweek teen Argentinië in Johannesburg uit te stal.

Indien hy vir die wedstryd gekies word, sal dit sy eerste internasionale wedstryd op die ikoniese Ellispark wees.

“Dit sal fantasties wees as ek speelkans kry. As ʼn Springbok het ek nog nooit daar gespeel nie,” het Kolbe gesê.

Dit is ook die Suid-Afrikaners se laaste tuiswedstryde voordat hul Wêreldbeker-voorbereiding in alle erns met opwarmingswedstryde weg van die huis begin.

“Die atmosfeer is altyd elektries by die stadion en dit sal baie spesiaal wees om voor passievolle en entoesiastiese toeskouers te speel.”

Die All Blacks het ʼn week of twee gelede die Springbokke onder hewige druk met hul goeie skopwerk geplaas en Kolbe meen dat die tuisspan weer eens op hul hoede teen die Argentyne moet wees.

“Die lugaanvalle kan ʼn deurslaggewende faktor wees. Argentinië spog met oud-sewesspelers in sy agterlyn en die span het in sy afgelope twee wedstryde gewys waartoe hy in staat is.”

Deon Davids meen ook dat die Bokke goed genoeg is om ná die All Blacks-nederlaag weer op alle suiers te vuur.

“Ons het die wedstryd teen Nieu-Seeland behoorlik ontleed en ons sal in alle fasette wil verbeter. Suid-Afrika beskik oor topgehalte-spelers en ek glo nie dat ʼn groep skielik ʼn swak span ná een vertoning word nie. Daar is planne in plek en ons weet wat ons wil bereik.”

Die Springbok-span vir Saterdag se Argentinië-toets word later vandag aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Sal baie moet verbeter om die All Blacks te kan klop wanneer hulle weer speel. Hopelik is die besielende kaptein en sterspeler Kolisi teen daardie tyd terug om die herderloses te lei en die spelpeil te lig..

De Villiers ·

“die besielende kaptein en sterspeler Kolisi”? Jy maak seker ‘n grap?

kragaap ·

Jou besielende kaptein is Duane Vermeulen. Kyk hoe vêr wen die bokke Saterdag…….en die bok mikro agterspelers veral op vleuel sal moet vinnig leer verdedig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.