Daar sal ʼn fyn balans gehandhaaf moet word in die Kaapstadse sewestoernooi.
Dis die gans wat die goue eiers vir Suid-Afrikaanse rugby lê, want meer as 100 000 toeskouers het Saterdag en Sondag deur die hekke gestroom om die Blitsbokke in aksie te sien in die suksesvolste toernooi op die seweskalender.
Vergeet van Twickenham, Las Vegas, Dubai en Singapoer.
Die Kaapstad-sewes is soos manna uit die hemel vir die Suid-Afrikaanse rugbybase en ondersteuners nadat die Springbokke die kluts die afgelope paar jaar kwyt was. Dit was, soos die politici dit alte graag stel, ʼn goeie storie om te vertel.
ʼn Tweedaagse fees, ʼn ongelooflike partytjieatmosfeer en al wat ontbreek het, was ʼn Blitsboksoorwinning.
Verlede jaar was Engeland die groot pretbederwer in die eindstryd, vanjaar het die All Blacks die Blitsbokke in die halfeindronde uitgestof.
Dis alles goed en wel om die span te ondersteun, dis goed en wel om vlae rond te swaai en elke keer te juig elke keer wanneer Seabelo Senatla aan die bal raak, maar daar word gans te veel van die spelers verwag, die druk is gans te groot.
Die Blitsbokke het geestelik tam voorgekom, hulle was soms futloos op die verdediging en hulle het foute begaan wat nie in hul bloudruk voorkom nie.
Die spelers se optredes in die week voor die toernooi sal baie goed bestuur moet word.
Verlede jaar in Chicago het die All Blacks in dieselfde strik getrap toe hulle teen Ierland gespeel het.
Hulle is die week voor die toets oorval met versoeke, hulle was by ʼn gridiron-wedstryd, hulle is op die hande gedra, hulle kon kwalik hul aandag by hul voorbereiding en die toets bepaal.
Ja, dit is nodig om die spel te bemark, dis nodig om die spelers op die hande te dra, dis nodig dat hulle geleenthede bywoon, oefenklinieke hou, winkelsentrums besoek, en hordes onderhoude met die media voer.
Maar handhaaf ʼn fyn balans, anders gaan die vrugte nie gepluk word nie.