Kwadrupleë wil fietstoer aanpak en ook terugploeg

Gerhard Swarts sal saam met Dan Lombard die 94.7-fietswedren aandurf. Foto: Verskaf.

Onderkry is min vir ’n man soos Gerhard Swarts.

In 2003 het hy sy nek in ’n o. 14A-rugbywedstryd gebreek toe ’n teenstander op hom geval het.

“’n Losgemaal het gevorm en ’n speler het op my nek geval. Ek het drie klapgeluide gehoor en kon onmiddellik niks voel of beweeg van my nek tot by my tone nie. Ek het besef my nek is gebreek,” het hy gesê.

Swarts is per draagbaar van die veld gedra en gediagnoseer met ’n vlak C4/5- spinale besering. Hy is van daardie dag af ’n kwadrupleeg.

“Vandat ek kan onthou, is ek mal oor sport. Ek het geleef vir tennis, muurbal, gholf en veral vir rugby. Toe ek besef dat ek nooit weer aan my gunstelingsportsoorte sou kon deelneem nie, was ek platgeslaan. Dit gaan nie net oor sport nie, my hele lewe is basies in ’n oogwink verwoes.”

Maar soos reeds gesê is Swarts – nou 31 jaar oud – een van daardie spesiale individue wat, soos die Engelsman sê, limonade maak wanneer die lewe vir hom ’n spul suurlemoene uitdeel.

Deesdae is hy die Valke se tegniese ontleder in die Curriebeker, terwyl hy dieselfde rol vir Tukkies in die Varsitybeker-veldtog vertolk.

Nou is daar ’n nuwe sportdroom op die horison. En dit is om in November die 94.7-fietswedren saam met sy vriend, Dan Lombard, aan te pak.

“Ons is albei kwadrupleë weens rugbybeserings wat ons vroeër in ons lewens opgedoen het. Ek gaan die wedren met ’n handfiets aanpak, terwyl Dan deur ’n span ryers in sy eie strydwa, as jy wil, getrek sal word,” het Swarts gister aan Maroela Media gesê.

’n Hand wat toe is, kan nie sommer iets ontvang nie. Wanneer jy vir ander sorg, kan jy egter net so maklik weer ontvang ook.

Gerhard Swarts in aksie met sy handfiets. Foto: Verkaf.

“Ons het besluit om iets terug te gee vir die organisasies wat ons so baie help. Die Chris Burger-Petro Jackson-fonds doen fantastiese werk om ons 107 ‘soldate’ wat met rugby seergekry het te help – finansieel, emosioneel en fisiek. Dit is ongelooflik duur om te oorleef as jy verlam is.”

Die tydperk van afsondering sal ook nie hul entoesiasme-vlam blus nie. Swarts wou vanoggend sy fiets lig om te oefen, maar ’n gebrek aan toue het dié plan effens in die wiele gery. Nou gaan hy met handgewigte werk om sy bo-arms en skouers sterker te maak.

“Hierdie afsonderingstydperk neem my terug na die tyd toe ek vir vyf maande in die hospitaal weens my nekbesering was. Daar wag beslis ’n taai paar maande op die mensdom en ons sal op elke moontlike manier getoets word. Al wat ek kan sê, is om die beste van hierdie tye te maak: Dit is moeilik, maar moontlik.”

Swarts wil graag eendag ’n span afrig, maar hy is dankbaar om nog deel van rugby te wees.

“Ek dink nie woorde kan beskryf hoe baie ek die spel mis nie. As jy elke dag betrokke is en wens dat jy nog saam met die ouens kon speel het… Ek dink dit is maar een van die redes waarom ek nog so by rugby betrokke is. Sielkundig help dit my baie.”

  • Dit is hul doel om R100 000 vir die Chris Burger-Petro Jackson-fonds en die Tigerstripes Revolution in te samel. Hulle het reeds amper R10 000 deur hul givegain-platform ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.