KZN-liga: geel kaarte laat Hillcrest hard werk

hillcrestnewTwee geel kaarte het veroorsaak dat Hillcrest Saterdag tuis hard teen Westville Old Boys (WOB) moes werk om sy wedstryd in die halfeindstryd van die Junior Murraybeker te wen.

Die verdedigende kampioen het uiteindelik 24-8 teen sy tradisionele vyand aan die voet van die heuwel gewen, nadat hy rustyd reeds 24-3 voor was.

Mike de Kock, `n woordvoerder van Land Rover Durban Hillcrest Villagers, sê dit was die derde kragmeting die afgelope seisoen tussen die twee spanne en al het Villagers albei wedstryde in die Eerste Liga gewen, het hy `n sege in die uitklopreeks nie as vanselfsprekend aanvaar nie.

“Die tuisspan was blitsvinnig uit die blokke, en het meedoënloos aangeval om binne die eerste 25 minute vier drieë te druk.

“Twee geel kaarte het egter sy momentum versteur en WOB toegelaat groter besit te wen en Hilcrest lang rukke op die agtervoet te plaas.”

De Kock sê daar was hier en daar `n geruk en pluk namate spelers gefrustreerd geraak het en die westryd het sy vinnige pas ingeboet.

“Dit het tot `n uitmergelende stryd gelei omdat Hillcrest die grootste deel van die tweede helfte op die aanpasbaarheid van sy verdediging moes terugval.

“Die besoekers het uiteindelik halfpad deur die tweede helfte die doellyn met `n rolmaalbeweging oorgesteek.”

Hy sê Hillcrest se volgehoue aggressiewe verdediging het ook `n paar wegbreekgeleenthede in die laaste kwart van die wedstryd geskep, maar wanhopige noodverdediging deur WOB het die telling tot 24-8 beperk.

Michael Moxley was die voorspeler van die wedstryd en Henkie Groenewald die agterspeler. Albei het grootse veelsydige vertonings gelewer.

Hillcrest verdedig sy titel Saterdag in `n verwagte taai wegwedstryd teen Northwood Crusaders, en De Kock het `n oproep op die klub se ondersteuners gedoen om saam daarheen op te ruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.