Likkewane maak reg vir 85ste verjaardag

likkewaneDie rugbyklub van Korrektiewe Dienste (KD) in Pretoria, alombekend as die Likkewane en deesdae `n oop klub, is besig om planne vir die viering van sy 85ste verjaardag te beraam.

Aby Oosthuizen, die klub se voorsitter, sê benewens `n rugbydag op 11 Junie waaraan die eerste spanne van al die Carlton B-klubs sal deelneem, sluit die beoogde bedrywighede `n reünieontbyt, `n hengelwedstryd en die jaarlikse gholfdag in Augustus in.

Die ontbyt het ten doel om al die klub se vorige spelers en administrateurs vir hul bydrae tot die klub se bestaan te vereer, en die hengel is om geld vir die klub in te samel. Die datums moet nog bepaal word.

♦  KD se eerste span is tans tweede in die Carlton B-liga, maar het ewe veel ligapunte as die voorloper, die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT).

Die tweede span is die voorloper in sy afdeling, `n ligapunt voor Brits. Die derde span is vyfde en die KD-oumanspan sesde in die afdeling vir derde spanne.

Verlede jaar was die eerste span vierde en het net-net teen die wenner, Dragons, in die halfeindstryd verloor. Die tweede span was vyfde en die derde het sy liga die derde agtereenvolgende keer gewen.

Oosthuizen sê die klub het `n bekwame afrigtingspan in die direkteur van afrigting, André Grundling, Edwin Schuster, Mossie Mosterd, Martin Smit en Paul von Burick.

Louis Strydom jaag die All Black-heelagter Bob Scott.

Louis Strydom jaag die All Black-heelagter Bob Scott.

Geskiedenis

♦ Die klub is in 1931 gestig en het aanvanklik as Gevangeniswese bekendgestaan. Dit het in 1940 senior status verkry en het sedertdien ontwikkel in `n gedugte span waarmee Blou Bulland deeglik rekening moet hou.

Rooikoos Klopper was die eerste speler wat in 1939 vir die destydse Noord-Transvaal gespeel het.

Die klub se eerste Springbok was Louis Strydom wat in 1949 vir die Springbokspan teen die All Blacks gekies is.Verskeie ander spelers het later Sprinbokke geword nadat hulle vir ander klubs gespeel het, soos Moaner van Heerden, Deon Oosthuysen, Henry Tromp, Botha Rossouw en Drikus Hattingh. Chivago Breda, wat die klub se eerste anderskleurige speler was om die Blou Bulle op Curriebekervlak te verteenwoordig, is in 1996 vir Suid- Afrika A gekies.

Verskeie spelers van die klub het in Curriebekereindstryde vir Noord-Transvaal gespeel: George Symington en Louis Strydom (1946), Koffie van Staden (1971), Floors Aucamp en Moaner van Heerden (1973), en Deon Oosthuysen en Donnie Verster (1988).

Deon Boardman met die Carltonbeker.

Deon Boardman met die Carltonbeker.

Hoogtepunte

Daar was verskeie ander hoogtepunte in die klub se geskiedenis, waarvan die wen van die gesogte Carltonbeker in 1993 en 2001 gewis die hoogste is.

Die Likkewane is in 1993 gebrei deur die alombekende en hoogaangeskrewe Deon Boardman, wat in 1984 en 1992 as Carltonafrigter van die jaar aangewys is. Hy en sy hulpafrigter Jimmy Watt het die Likkewane in ‘n gedugte span saamgesnoer, en onder die goeie leierskap van die kaptein, André Storm, het die Likkewane dit reggekry om `n sterbelaaide Polisiespan 26-9 in die eindstryd te klop.

Dié prestasie is in 2001 – die klub se 70ste bestaansjaar – herhaal, toe die Tukkies in die eindstryd geklop is.

In 1994 is die Lucas Strachantrofee die eerstse keer deur die klub gewen.

Die tweede span het in 1989 (met Kitty Scholtz as afrigter) die eerste keer in die klub se geskiedenis dit reggekry om die Senior Reserweliga te wen.

Die ander junior ligaspanne (derde, Bavianspoort, Leeuwkop en die o.20s) het by verskeie geleenthede as wenners van hul onderskeie ligas uit die stryd getree

Roy Gamble

Roy Gamble

Legendes

Die klub het verskeie legendes opgelewer – op die speelveld sowel as in die administrasie van die Blou Bulle – en dit sal moeilik wees om almal uit te sonder.

Hier word gedink aan Dries Arlow wat 25 jaar aktief vir die klub rugby gespeel het, en op 45 vir die Senior Reserwespan gespeel wat die liga die eerste keer gewen het.

Verskeie klublede het in die bestuur van die Blou Bulle gedien. Daar was oom Floors Aucamp (`n lewenslange ere-visepresident van die Blou Bulle) en die “Rooi Baron” oftewel Roy Gamble, wat as vise-president in verskeie portefeuljes by die Blou Bulle gedien het. Gamble was sinoniem met Likkewane-rugby”. Coen Basson, wat ook vir die klub gespeel het, was `n visepresident van die BBRU, en `n gewese voorsitter van die klub, Johnny Jaftha, dien tans as `n visepresident van die unie.

Groen Dood en Likkewane

Daar word vandag nog na die span met sy grootliks groen truie as die “Groen Dood” of die “Likkewane” verwys.

Moaner van Heerden

Moaner van Heerden

Oor die Groen Dood vertel Moaner van Heerden die destydse patroon van die Nieu-Seelandse spanne om hoog te skop en die bal te jaag, is deur die jare heen byna deur die Likkewane vervolmaak. Hulle was bekend daarvoor dat wanneer een van hierdie skoppe geloods is, byna alle teenstanders platgehardloop is.

Verskeie weergawes oor die naam Likkewane doen die rondte maar die mees aanvaarbare is waarskynlik dié van oom Flippie Roets wat reeds in 1940 met pensioen afgetree het. Volgens hom moes hy `n groep bewaarders na `n swemgala vervoer waar die spanne name soos die Otters (`n bekende swemklub) gehad het. `n Proefbewaarder wou weet hoekom die diens se span nie ook `n naam het nie en oom Roets het voorgestel dat die naam sommer die Likkewane moet wees. Dis aanvaar, het algemene inslag gevind en vandag is dit gebruik om na die Pretoria Korrektiewe Dienste-span as die Likkewane te verwys.

Oosthuizen sê die beroepsera het `n negatiewe uitwerking op die klub gehad en hy het in 2003 sy senior status verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

‘n Paar wedstryde vir Bobbies teen Likkewane gespeel. Hulle was tough, baie tough. As hulle hoog geskop en gestorm het het jy vir jou lewe gevrees want die Groen Dood was oppad.
Moaner, Deon Boardman en die Rooi Baron legends. Voorspoed Abie.

Jacques ·

Ek moet net met trots byvoeg dat my pa Andre storm ook in 1996 vir die noord transvaal span gekies was en so ook daar gespeel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.