Lions behou hul tempo vir 80 minute!

Kwagga Smith is die ondersteuners se speler van die wedstryd. Foto: Lions se Facebookblad.

Gister het die Jaguares vir die Hurricanes ore aangesit en vanmiddag het die Lions vir die Highlanders op Emirates Airline Park getroef. Dit is dus die tweede keer in twee dae dat spanne uit die Suid-Afrikaanse afdeling van die Superrugby-reeks hul Kiwi-eweknieë klop.

Die Lions was 38 – 29 in Johannesburg baas, ná albei spanne vyf drieë elk gedruk het.

Die Highlanders se Josh Ioane en Dan Hollinshead het egter ’n swak dag agter die skopkelkie gehad. In teenstelling met hul vertoning was Elton Jantjies die bestendigheid vanself.

Die Springbok-losskakel was suksesvol met vyf doelskoppe en ʼn strafskop en was uiteindelik vir 13 van sy span se punte verantwoordelik.

Dit is die tweede agtereenvolgende naweek wat die Lions op hul tuisveld koning kraai – hulle het verlede week net-net met die Waratahs klaargespeel.

Vandag het hulle met tye weer soos die Lions van ouds gelyk en het nie geskroom om die bal lug te gee nie. Die agterlyn – met Harold Vorster en Aphiwe Dyanti voor in die koor – het gereeld aanvalle vanuit hul eie gebied geloods. Soos daar tereg opgemerk word: wat is die doel van ’n agterlyn as hulle nie met die bal wil hardloop nie?

Die voorry van Dylan Smith, kaptein Malcolm Marx en Carlu Sadie was dorings in die Highlanders se vlees en hulle het met tye die besoekers ordentlik in die skrums opgedons.

Dan was Kwagga Smith weer eens ’n breker.

Dié woelwater-losvoorspeler het twee drieë gedruk en het ’n keer of wat ’n belangrike duikslag uitgevoer. Sy fisieke grootte mag dalk teen hom tel vir meer Springbokkragmetings. Maar Rassie Erasmus gaan nie sommer ’n speler met ’n groter hart kry nie.

Boonop kon die Lions die druk vir ’n volle 80 minute teen ’n Nieu-Seelandse span volhou. Shaun Reynolds en Courtnall Skosan se drieë was immers in die laaste tien minute van die wedstryd gedruk.

Die Lions se spogsege beteken nou dat hulle derde op die SA afdeling is met hul 30 punte – binne trefafstand van die Bulls en die Jaguares.

  • Puntemakers:

Lions: Drieë: Andries Coetzee, Kwagga Smith (2), Shaun Reynolds, Courtnall Skosan. Doelskoppe: Elton Jantjies (5). Strafskop: Jantjies.

Highlanders: Drieë: Sio Tomkinson, Thomas Franklin, Jordan Hyland, Matt Faddes, Josh Ioane. Doelskoppe: Ioane, Dan Hollinshead.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ben ·

Nou sal ek graag net wil weet, gaan Rassie aanhou om nie die beste manne te kies nie, baie min mense hou van Elton, dink ons het die beste senter paar op die oomblik, jy kan tog nie voort ploeter met die elende en diesulks nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.