Lions se Rubicon-oomblik in Hamilton

Warren Whiteley. (Foto GB Jordaan)

Toe die Romeinse generaal Julius Caesar destyds die Rubicon-rivier oorgesteek het, was daar geen omdraaikans vir hom en sy beleërde troepe nie. ’n Morsige burgeroorlog het gevolg en Caesar is uiteindelik as diktator aangewys.

Net so het ʼn mens die gevoel gekry dat as die Lions vandag in Hamilton vasgeval het, dit eintlik maar  neusie verby vir hul Superrugby-veldtog sou gewees het.

Tog het elke span die keuse om óf te hênsop óf om te veg. En die Lions het besluit om vandag te vég!

Met Swys de Bruin terug na Suid-Afrika vir persoonlike redes het Ivan van Rooyen die afrigterleisels by hom oorgeneem. Op en van die veld het dinge maar beroerd vir die Johannesburgers gelyk. Veral as jy in ag neem dat hulle twee agtereenvolgende nederlae teen die Sharks en die Brumbies gely het.

Maar as Hamilton die spreekwoordelike Rubicon is, dan is Whiteley sonder twyfel Caesar.

Die 31-jarige het sy terugkeer tot Superrugby gemaak nadat hy in Februarie ’n borsspierbesering teen die Stormers op Nuweland opgedoen het.

Toe hy vandag in die 78ste minuut die veld verlaat het, het die Lions genoeg gedoen om die Chiefs met 23-17 op hul tuisveld te klop; die Johannesburgers se tweede agtereenvolgende sege in Hamilton.

Sy inspirerende leierskap het gesorg dat die Suid-Afrikaners ’n rustydvoorsprong van 20-0 geniet het.

Die Lions was skitterend in die skrums (Carlu Sadie en Kie. verdien hiervoor lof) terwyl hulle aanvallende spel die Chiefs op die agtervoet geplaas het.

Tog is Nieu-Seelandse spanne daarvoor bekend dat hulle laat in die wedstryd na ’n hoër rat kan oorskakel. En dit is presies wat die Chiefs gedoen het.

Drie vinnige drieë het die Lions laat sweet, maar Jantjies se skepdoel in die 79ste minuut het die wedstryd finaal buite die Nieu-Seelanders se bereik geplaas.

Die uitslag sorg dat die Lions nou tweede op die Suid-Afrikaanse afdeling van die punteleer is.

Nou moet hulle vorentoe beweeg. Daar is nie nog tyd om terug te kyk nie.

  • Puntemakers:

Lions: Drieë: Carlu Sadie, Aphiwe Dyantyi. Doelskoppe: Elton Jantjies (2). Strafskoppe: Jantjies (2). Skepskop: Jantjies.

Chiefs: Drieë: Sean Wainui, Nepo Laulala, Tumua Manu. Doelskop: Marty McKenzie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

L ·

Die waarde van Warren Whitley se leierskap in net weer in rooi onderstreep. Indien Kwagga weer nie gekies word vir die bokspan, hoop ek van harte Erasmus en kie sal eendag met hulle gewetens kan saamleef. Jantjies se kalmte en skepskop aan die einde is kwaliteite wat broodnodig vir enige span is.

Dries ·

Dis my span , ek is so bly! ‘nkenmerk van die 4 SA spanne die jaar is dat hulle so op\af is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.