Marcell het Curriebeker in visier

Marcell Coetzee beur vorentoe teen die Haaie in die 2021-Curriebekereindstryd. (Foto: GB Jordaan)

Die Curriebeker staan uitkloprondes se kant toe en volgens Marcell Coetzee sal die Blou Bulle alles in die stryd werp om nie net vir die eindstryd te kwalifiseer nie, maar ook om die silwerware omhoog te hou.

Die Pretorianers beklee tans die vierde plek op die amptelike punteleer en ʼn belangrike wedstryd wag hierdie naweek teen die Cheetahs op Loftus Versfeld.

“Die span het die karaktertoets in moeilike wegwedstryde teen Griekwas, die Pumas en die Leeus geslaag. Almal is trots om die Bloubultrui oor die kop te trek en ons sal 110% gee om die Curriebeker te wen,” het Coetzee gesê.

Die losvoorpeler het onlangs weer sy terugkeer van Japan gemaak waar hy vir die Kobelco Kobe Steelers uitgedraf het.

En die son het sommer weer ʼn bietjie helderder op Loftus begin skyn.

“Een swaeltjie maak nie noodwendig die somer nie. As ʼn span het ons na ons sterk punte terugbeweeg. Die spelers speel vir mekaar, ons maak op stewige spelfasette staat en ons geniet weer rugby.”

Hy het egter bygevoeg dat die Bulle nog niks gewen het nie en dat harde werk hul voorland is.

Talle ondersteuners meen dat die 32-jarige speler goed genoeg is om vir die Springbokke in Frankryk te speel.

“ʼn Mens sal natuurlik jou naam in die hoed in ʼn Wêreldbeker-jaar wil hê, maak ek was nog met niemand in gesprek daaroor nie.”

Voordat hy die amptelike held van Loftus geword het, het hy ook skitterrugby in die kleure van Ulster gespeel. Dan McFarland, afrigter van die Ierse klub, het juis gemeen dat Coetzee weer ʼn gereelde gesig in die Springbok-span moet wees.

“Ek hoop van harte dat Marcell vir die Bokke gekies sal word en dat hy in elke wedstryd vir hulle sal speel. Hy verdien beslis so iets; hy is lief vir Suid-Afrika,” het McFarland gesê.

Tog is Coetzee se hoofdoelwit om wedstryde saam met die Bulle te wen.

“Ek is tevrede met waar ek in my loopbaan is en ek is baie gelukkig by die Bulle. Dit is lekker om ’n verskil hier te maak.”

Die Curriebeker-wedstryd tussen die Blou Bulle en die Cheetahs begin Saterdag om 15:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Curriebeker-punteleer:

  1. Haaie: 48 punte
  2. Cheetahs: 46 punte
  3. Pumas: 36 punte
  4. Blou Bulle: 36 punte
  5. Griekwas: 35 punte
  6. Westelike Provinsie: 32 punte
  7. Goue Leeus: 31 punte
  8. Griffons: 10 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.