Masuku se droomskop gee Cheetahs vlerke

Argieffoto (Foto: hirobi/Pixabay)

Die Springbok Pat Lambie het dit in ʼn toets teen die All Blacks gedoen en Damian Willemse het Wallis in ʼn toets in die doodsnikke gekelder.

Sondagmiddag in die Stadio Sergio Lanfranchi in Parma was dit die Cheetahs se losskakel, Siya Masuku, se beurt toe hy hom by hulle aangesluit het.

Die Cheetahs was met speeltyd in hul wedstryd in die Europese Uitdaagbekerreeks teen Pau verstreke met 6-6 gelykop.

Die Cheetahs moes wen om tot die uitkloprondes van die reeks deur te dring, want Pau se punteverskil was beter nadat albei spanne met ses ligapunte begin het.

Masuku, wat in Piet Retief skoolgegaan het en reeds vir die Leeus en Southern Kings gespeel het voordat hy hom in 2021 by die Cheetahs aangesluit het, was kort voor sy heldedaad die skurk in die verhaal toe hy byna die wedstryd op ʼn skinkbord weggegee het nadat hy nie ʼn voorlaaste strafskop naby Pau se doellyn kon uitskop nie.

Met net een minuut se speeltyd oor het Pau besit behou, ʼn bietjie gedryf, die bal stadig gemaak en ʼn bietjie verder gedryf, maar is toe gestraf omdat hulle die bal vasgehou het.

Masuku het nader gestaan en komkommerkoel met die strafdoel van sowat 45 meter geslaag.

Die Cheetahs se droom, wat ʼn minuut vantevore byna verwoes was, was weer lewend.

Nou kan hulle saam met die groot honde in Europa bly blaf.

Maar maklik gaan dit nie wees nie, veral nie as die beseerde Bokke, Ruan Pienaar, Frans Steyn en Oupa Mohoje nie betyds van hul beserings herstel nie.

Maar die Cheetahs, wat  jare lank aan die agterspeen suig, wat in Parma moet bly om in Europa te speel en wie se spelerspens jaarliks deur ander spanne gestroop word, het gewys dat hulle nooit sal gaan lê nie.

Punte: Cheetahs 9 (3): Strafdoele: Siya Masuku (3).

Pau 6 (3): Strafdoele: Thibault Dibeas (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Hoekom bly die Cheetahs in Europa? Kan hulle nie bekostig om heen en weer te reis nie?

Dup ·

Ek kan aan twee redes dink: daar is nie beurtkrag nie en dit is baie koeler.

Casper ·

Piet,wat dink jy hoe gaan hulle voel as hulle na elke wedstryd terug vlieg SA toe en Woensdag weer oorsee vlieg.Ek sal jou sê,soos toiings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.