Matfield kies sy breier-gunstelinge

Springbok-afrigter Jacques Nienaber. (Foto: Patrick HAMILTON/AFP)

“Saru en rugbybase van die land; wie staan volgende met die afrigtersfluitjie in die hand?”

Verskoon tog die verwysing na ʼn bekende sprokie, maar vir baie Suid-Afrikaners is Springbok-rugby ʼn manier om tydelik van die werklikheid te ontvlug.

Wanneer die Bokke vir ʼn slag op alle suiers vuur, versag die diep frons – waarvoor beurtkrag, waterprobleme en rentekoersverhogings verantwoordelik is – net so ʼn klein bietjie.

Suid-Afrikaners het nie aldag baie om op trots te wees nie, maar Springbok-sukses sorg darem vir ʼn bietjie esprit de corps.

Daarom is dit belangrik om ʼn geskikte kandidaat te kies om in Jacques Nienaber se spore as hoofafrigter te volg.

Victor Matfield. (Foto: Ben Queenborough/DPPI via AFP)

En vir Victor Matfield staan drie breiers voor in die ry om die nasionale afrigtersleisels vas te vat: Johan Ackermann, Franco Smith en Johann van Graan.

Die slot – wat Suid-Afrika in 127 toetse verteenwoordig het – meen dat Ackermann se getuigskrif ʼn definitiewe hupstoot in sy tyd saam met die Lions gekry het, terwyl Smith ʼn wêreldreisiger van formaat is. Terselfdertyd het Van Graan ervaring saam met Munster en as Springbok-assistentafrigter opgedoen.

“Maar as ek moet kies, sal dit tussen Van Graan en Ackermann wees,” het Matfield gesê.

Ackermann het toegesien dat die Lions in twee Superrugby-eindstryde op ’n streep gespeel het en die Johannesburgers was toe veral bekend vir hul avontuurlustige spel. Hy het later aan die stuur van Gloucester in Engeland gestaan, terwyl hy nou in Japan afrig.

Hoewel Van Graan nooit toprugby gespeel het nie, het hy met sy analitiese benadering by die Bulls en die Springbokke beïndruk voordat sy rugbypad hom na Munster en Bath geneem het.

Johan Ackermann. (Foto: Gloucester Rugby/Facebook)

Luidens berigte is Mzwandile Stick en Deon Davids egter in die binnebaan om die volgende Springbok-afrigter te word.

Al twee is deel van die huidige Bok-afrigtersopset: Stick is verantwoordelik vir die agterspelers in die groep, terwyl Davids die voorspelers onder sy vlerk neem.

Vroeër het die voormalige Springbok-vleuel Bryan Habana in ʼn onderhoud met AFP gesê dat dit “interessant” sal wees om te sien op wie SA Rugby uiteindelik besluit.

“Gaan dit een van die huidige afrigters wees – Mzwandile Stick of Deon Davids? Terselfdertyd vaar John Dobson baie goed saam met die Stormers, terwyl Jake White waarskynlik ook sy naam in die hoed sal gooi. Dit gaan beslis ʼn baie moeilike besluit wees.”

Natuurlik sal baie plaaslike rugbyliefhebbers meen dat Jimmy Stonehouse ook deel van die gesprek behoort te wees.

Die 59-jarige hoofafrigter van die Pumas het al sukses in Suid-Afrika, Japan, op skoolvlak en die internasionale verhoog gesmaak; veral sy kanniedoodhouding en eerlikheid word wyd en syd gerespekteer. Maar soos wat dit dikwels in sportkringe gaan, word ’n profeet nie noodwendig in sy eie land geëer nie.

  • Nienaber het verlede naweek aangekondig dat die komende Wêreldbeker-toernooi in Frankryk sy laaste wedstryde as Springbok-hoofafrigter sal wees.

Die 50-jarige breier het persoonlike redes vir die besluit voorgehou en hy het aangedui dat hy na afloop van die toernooi by Leinster se afrigtersgroep in Ierland sal inskakel.

Volgens Rian Oberholzer, SA Rugby (Saru) se uitvoerende hoof, het die afrigter in ’n openhartige gesprek die redes vir sy besluit deurgegee.

“Ons sal weldra ’n nuwe Springbok-afrigter aanwys, maar Rassie Erasmus is deel van die opset tot ten minste 2025,” het Oberholzer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

SwartBees ·

EK dink as Akkers en Swys weer saam die septer swaai sal daar weer n domineerende span uit draf op die veld.

Hennie Biebouw ·

Swys se senuwees kon nie die druk van die Lions afrig hanteer nie..wat laat jou dink hy sal dié druk hanteer?

Michael ·

Dit maak nie saak wie hulle nou aanstel nie-Erasmus sal steeds die afrigter wees. Nienaber was maar net die gesig van die afrigter-die springbokke was die eerste span van wie hy ooit hoofafrigter was-hoe was dit moontlik? Dinge met die span sal nie verander terwyl Erasmus daar is nie-hy is die eintlike afrigter.

Sobymykoolkop ·

Dink julle regtig die anc en ”
“regering ” gaan iemand van ”
“buite” aanstel en toelaat dat die huidige hulpe ( stick en davids) nie in aanmerking kom nie? Droom voort. Nou is dit uithaal en wys oor transformasie. Glo my vry. Erasmus is die volgende aankondiging. Daarna volg julle bokke dieselfde roete as die sewes.

Harley Davidson ·

Wie ondersteun ‘n span wat gekies word op ‘n kwota,sisteem gebaseer op velkleur ,in my verwysings raamwerk kom dit neer op diskriminasie teen beide wit en swart spelers.

Sobymykoolkop ·

Ek verstaan nie wat jy bedoel as jy sê kwotas diskrimineer teen swart spelers nie. Dit bevoordeel hulle dan reeds. Wat is die hoofrede hoekom Luan vd Merwe as vleuel vir skotland uitdraf. Hy weet hy het nie ń kans hier nie.

Manie ·

Ek voel dat wanneer ‘n swart speler bo ‘n wit speler in ‘n posisie gekies word terwyl hy weet dat hy nie werklik die beste in sy posisie is nie, daar sielkundig teen die swart speler gediskrimineer word. Hy moet tog sekerlik weet hy is net daar om die kwota balans reg te hou. Deur die wit speler wat die beste is weg te laat, word teen beide gediskrimineer. Dis wat die hele kwota stelsel so siek maak. Meriete is al wat moet tel.

Harley Davidson ·

Die swart spelers maak nie saak hoe goed hulle is nie staan bekend as kwota spelers en soos jy se wit spelers kry nie span agv die rasse diskriminasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.