Mening: Vlieënde Kolbe een vir die boeke

Cheslin Kolbe fnuik Thomas Ramos se stelskopplanne. (Foto: Miguel Medina/AFP)

Cheslin Kolbe het in aanloop tot die Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Frankryk gesê dat hy nuwe herinneringe op die Stade de France sou wou skep.

Ná 80 minute se spel kon die Springbok-vleuel sommer met ʼn hele fotoalbum gelaai met nuwe hoogtepunte spog.

Die 29-jarige vleuel het een van sy beste vertonings nóg in ʼn Bok-trui gelewer en hy het ʼn deurslaggewende rol in die Suid-Afrikaners se oorwinning van 29 – 28 gespeel.

Daar was sy drie in die 26ste minuut van die kragmeting toe hy sy bene gerek het om Jesse Kriel se steekskoppie agterna te sit.

Maar die hoogtepunt van sy wedstryd is ongetwyfeld sy briljante stormlopie – ʼn paar minute vóór sy drie – om Thomas Ramos se stelskoppoging in die wiele te ry.

Peato Mauvaka het pas Frankryk se tweede drie van die kwarteindstryd gedruk en Ramos het agter die skopkelkie aangetree, ʼn keer na die teiken geloer en met sy seepgladde aksie na die pale laat waai.

Hy het egter nie rekening met die vlieënde Kolbe gehou nie en die Suid-Afrikaanse buksblits het soos ʼn koeël uit ʼn geweerloop weggetrek en met sy arms omhoog in die lug gespring om die Franse heelagter se skoppoging te fnuik.

Almal weet dat só ʼn afstormlopie moontlik is, maar bitter min het dit al ooit regstreeks op enige rugbyveld gesien. Om dan nie eens van die Stade de France in ʼn Wêreldbeker-kwarteindstryd te praat nie.

In ʼn wedstryd wat Suid-Afrika met ʼn enkele punt gewen het, was Kolbe se dapperheid en vaardigheid deurslaggewend.

Hy was deurgaans ʼn doring in die Fransmanne se vlees en hy het onder meer 126 meter met die bal gevorder; die meeste van enige speler in al twee spanne. Op die verdedigingsfront was hy in die kol met sewe van sy duikslae.

Cheslin Kolbe het weer eens bewys dat hy ʼn speler vir die groot oomblik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kobus ·

Moes Man van die wedtryd gewees het. Besef ons hoe vinnig hy is? Hy moes 25m plus hardloop terwyl Ramos se aanloop slegs 3 of 4 meter was? Briljant gespeel Cheslin

Suzette ·

Cheslin was uitmuntend – voel hy moes “Man of the Match” gewees het.

JohanR ·

Daar was soe baie Bokke wat “man of the match” moes gewees het. Ok hy het ‘n geel kaart gekry, maar Eben was op sy stukke, Kwagga en Deon was fantasties. Wat kry jy eintlik vie Man of the Match? El sal ‘n nuwe Jaguar sports kar vat assebleief..

Ronél ·

Hy kan nie verlore raak vir SA Rugby nie……………….briljant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.