Meningstuk: Afrigters kies ook koers oorsee

Franco Smith. Foto: Facebook.

Terwyl dit in Europa van veral voormalige Nieu-Seelandse afrigters wemel en hulle skynbaar sonder enige omwenteling in hul tuisland deur ewe bekwame afrigters vervang word, stem ʼn kykie na Suid-Afrika se afrigtersituasie ʼn mens tot nadenke.

Ja, dis nie net die spelers wat in hul horde Suid-Afrika vir die oorsese vleispotte verlaat nie. Dieselfde geld vir afrigtingspersoneel en afrigters.

Loer netnou hieronder na van die top-afrigters wat hier weg is – en dis nie eens ʼn volledige lys nie.

Maar eers ʼn paar (baie onvolledige) voorbeelde waar Suid-Afrika oorsee ʼn klompie lesse kan gaan leer.

  • Toe John Plumtree in 2013, ná die aanstelling van die Sharks se nuwe uitvoerende hoof, John Smit, in die media moes lees dat hy vervang word, was daar niemand om hom op te volg nie. Smith se oud- Junior Springbok- en Bok-afrigter Jake White is uit Australië laat kom.
  • Loffie Eloff is in 2009 deur die Lions gepos ʼn paar dae voordat die span teen die Britse en Ierse Leeus sou speel. Daar was geen opvolging vir Loffie beplan nie en Hans Coetzee, ʼn uitstekende skoleafrigter, moes skielik die leisels vat.
  • Die Bulls se Nollis Marais, ʼn afrigter met groot potensiaal, is skielik nadergetrek toe Frans Ludeke padgegee het. Marais was nog nie ryp om Superrugby af te rig nie en John Mitchell is laat kom.
  • Toe Mitchell ná ʼn seisoen Engeland toe padgee, was daar nie ʼn opvolger nie. ʼn Rits name van moontlike afrigters is genoem. Pote Human het die pos gekry. Wie sal by hom oorneem?
  • Net so is Robbie Fleck skielik in die plek van Eddie Jones aangestel toe dié ná net ʼn week of drie by die WP/Stormers padgegee het.

Die les is ter harte geneem, en wanneer Fleck einde vanjaar loop, is John Dobson gereed om oor te neem saam met ʼn klomp manne wat al saam met hom die pad gestap het.

Maar kom ons kyk na watter manne onder andere uit Suid-Afrika se stelsel weg is of weggaan.

Tussen hulle is daar twee afrigters van Wêreldbekerlande. Gary Gold is hoofafrigter van die VSA en Franco Smith neem ná die Wêreldbeker oor as Italië se hoofafrigter.

Jake White. (Foto: YouTube)

Jake White is die afrigter van die 2007-span wat die Wêreldbeker gewen het. Hy is nou in Japan hoofafrigter van Toyota Verblitz.

Gert Smal, voormalige direkteur van die WP- en Stormers-rugby, is nou White se assistent – en hy’s ʼn man wat, soos John Plumtree, ook Ierland se assistent-afrigter was.

Smal het Ierland se voorspelers in 2008 onder hande geneem en Ierland het die eerste keer in 61 jaar die Sesnasiesreeks gewen. Hulle het ook in 2009 die Bokke geklop wat die Drienasiesbeker gewen het (Smal het die Iere glo ʼn bietjie Afrikaans geleer sodat hulle die Bokke se kodes en planne kon verstaan!)

Plumtree, ʼn Nieu-Seelander en Blitsbok (1994) wat in die 1990- Natalse span was wat die eerste keer die Curriebeker gewen het, het Smal in Ierland as voorspeler-afrigter opgevolg ná Smit hom by die Sharks in die pad gesteek het. (Plumtree het Bismarck du Plessis as die Sharks se haker verkies met Smit, toe die Bokkaptein, wat merendeels van die bank af gespeel het.)

Toe is Plumtree na sy geboorteland, waar hy nou hoofafrigter van die Hurricanes is.

Hy was eers assistent-afrigter daar, maar toe Chris Boyd einde verlede jaar oorsee gaan afrig het, het Plumtree in sy plek hoofafrigter geword.

Dan is daar oud-Bokafrigter Heyneke Meyer wat Stade Français afrig. Hy word daar bygestaan deur Pieter de Villiers, voormalige voorryman van Frankryk wat ook verlede jaar assistent-afrigter van die Springbokke was. En daar is ook Dawie Theron, voormalige afrigter van die Junior Bokke, wat soos Jimmy Stonehouse van die Pumas nou terug is van Japan af.

Die vorige Bok-afrigter Allister Coetzee rig nou, ook in Japan, die Canon Eagles af.

Johann van Graan rig Munster, een van die voorste spanne in die Europese Beker-reeks, af.

Rory Duncan, voormalige direkteur van afrigting by die Cheetahs, het in hul eerste seisoen in die PRO14-liga die Vrystaatse span tot uitspeelronde geneem en is toe ʼn pos by Worcester as hoofafrigter aangebied.

Sy baas en die uitvoerende hoof daar is Alan Solomon, Nick Mallett se assistent toe die Bokke in 1997 en 1998 altesaam 16 toetse agtereenvolgens gewen het. (Dit was ʼn rekord van 17 toetse, maar die eerste was onder afrigtingskap van Carel du Plessis, wat deur Mallett opgevolg is.)

Johan Ackermann is ʼn yster, sal hulle jou in Johannesburg en nou ook Gloucester vertel. Hy was twee weke gelede een van die benoemdes as die Premierliga se afrigter van die jaar en sy span Gloucester het vanjaar die eerste keer in agt jaar die halfeindstryd van die Premierliga gehaal.

En wat van Dave Wessels? Die oud-afrigter van die Ikeys is nou baas van die Melbourne Rebels nadat hy besig was om die Western Force tot groot hoogtes te brei toe hulle “polities” uitgeskop is.

Almal van hulle is nie ewe goed nie. Dit is egter seker dat elkeen van hulle, op sy eie manier, ʼn bydrae tot Suid-Afrikaanse top-rugby kon en sou gelewer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

ChrisE ·

Rugby is mos deesdae ‘n besigheid. As jy ‘n suksesvolle besigheid wil hê moet jy goeie bestuurders oor beskik. Die ander vereiste is jou regeringsbeleid wat ‘n ideale klimaat skep om besigheid in te doen. Jy moet die regte personeel op meriete aanstel en nie token aanstellings maak nie. Dit is hoekom al die rugby personeel (spelers) en bestuurders (afrigters) groener weigelde soek en kry. Ek sien skole rugby is volgende in die visier.

Avokado ·

Skolerugby is klaar daar. Spelers word “beurse” gegee om by die skool te speel en so “beurs” die skool ‘n wenspan.

piet piet ·

Dit sal so aangaan todat alle diskriminerende wette opgehef word en almal op meriete kan deelneem.

kolla ·

Niks met wette te doen nie, dis geld. Daar speel byvoorbeeld meer NS’ers oorsee rugby as SA’ners.

Therese van Schalkwyk ·

En die Bangladesh-krieketspan prys die Suid-Afrikaner, Neil McKenzie, vir die gróót verbetering in hul kolfwerk.

Henry ·

Is nie slegs die spelers en afrigters wat pad vat nie.
Toeskouers is ook onderweg en die wat nie kan nie, sit die tv af en kuier eerder by die bure en familie as om na nog ‘n verloorspul te kyk.

Rupert Ashford ·

Sal interessant wees om ‘n soortgelyke berig te doen oor krieket.

Herman ·

Ek ondersteun net die Cheetahs – Franco moes nooit as ons afrigter gewees het nie – want ons het maar n gemiddelde Platteland se span gebly onder sy afrigting – hopelik kry ons nou nuwe bloed soos n Kiwi afrigter of n ou wat ken soos Rassie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.