Munster-breier voorspel fisieke Bulls-stryd

Munster verwag ’n fisieke aanslag van die Bulls. Foto: GB Jordaan.

Munster speel uiteindelik op 12 Maart teen die Bulls op Loftus Versfeld. En volgens Graham Rowntree verwag hy ’n fisieke aanslag van die Pretorianers.

Die Ierse klub se aanvanklike toer is verlede jaar kortgeknip toe die Omikron-variant die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) in chaos gedompel het.

Verskeie Munster-spelers het positief vir Covid-19 getoets en dit was omtrent ’n gedoente om ’n vlug terug na Ierland te kry.

Maar Martin Anayi, die VRK se uitvoerende hoof, het sedertdien aangedui dat daar gebeurlikheidsplanne beraam is en siedaar: Plaaslike spanne speel uiteindelik teen oorsese teenstanders in Suid-Afrika!

“Die Bulls sal beslis op hul tuisveld gereed wees vir ons,” het die Munster-afrigter gesê.

Marcell Coetzee se span het verlede naweek hul VRK-veldtog weer op koers gekry toe hulle vir Zebre Parma met 45 – 7 in Italië geklop het.

Hoewel hulle tevrede kan voel oor die uitslag, sal hulle bekommerd wees oor hul stotter-vertoning in die eerste helfte – teen Munster is daar nie noodwendig ’n terugkomkans as hulle die wedstryd só begin nie.

Die Ierse klub het juis beloof dat hy nie vir die Bulls sal terugstaan nie.

Rowntree het onder meer in 2009 saam met die Britse en Ierse Leeus na Suid-Afrika getoer en hy het eerstehandse ervaring van die plaaslike spelers se fisieke grootte en kragspel.

“Die Bulls is fisiek by die afbreekpunte en hulle het baie groot spelers wat vinnig op die Hoëveld op jou kan afstorm; dit is beslis ’n uitdaging waaraan ons nie gewoond is nie. Maar ons sal ook gereed wees vir hulle.”

  • Komende VRK-bepalings:

11 Maart: Sharks teen Scarlets om 19:10

12 Maart: Bulls teen Munster om 16:05

13 Maart: Lions teen Cardiff om 16:00; Stormers teen Zebre Parma.

18 Maart: Bulls teen Scarlets om 19:10

19 Maart: Lions teen Munster om 14:00; Sharks teen Zebre Parma om 18:30.

20 Maart: Stormers teen Cardiff om 14:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.