’n Uitnodiging-blitzkrieg tref Cheetahs

Johan du Toit, kaptein van die Toyota-uitnodigingspan. Foto: Twitter.

Vanmiddag se vertoonwedstryd tussen die Cheetahs en ’n Toyota-uitnodigingspan in Bloemfontein moes ’n soet-suur-ervaring vir Hawies Fourie gewees het.

Want wat suiwer vermaak betref moes die Vrystaat-breier groot geglimlag het; daar is immers 78 punte in 80 minute se spel aangeteken. Maar daardie einste glimlag het waarskynlik in ’n frons verander toe hy na die telbord kyk en sien dat die Uitnodigingspan die kragmeting met 43 – 35 gewen het.

Die spelers het die geleentheid gekry om in hul onderskeie skole se rugbykouse op die veld te draf. En met die Vrystaters se teenstanders wat bestaan het uit Varsitybekersterre en spelers wat min speeltyd by hul onderskeie unies kry, was die skoolrugbysêding dat “goeie spelers dikwels op die plaasvervangersbank sit” taamlik in die kol.

Nadat die Cheetahs aanvanklik die spel dikteer het, het die Uitnodigingspan laat in die eerste helfte vlamgevat om ’n rustydvoorsprong van 22 – 21 te geniet.

In die tweede helfte was dit eenrigtingverkeer met die Bloemfonteiners wat deurmekaar gespeel is. Johan du Toit se trawante het die een drie na die ander gedruk en die Cheetahs kon eers weer in die 68ste minuut van die wedstryd punte aanteken.

Ja, die Cheetahs was lanklaas in ’n wedstrydsituasie, maar dis g’n verskoning vir ’n hele paar ongedwonge foute nie. Die laaste spyker in hul doodskis was Richard Kriel se onderskepdrie.

As die Cheetahs vir ’n lekker uitdaging voor die aanvang van die Curriebeker gevra het, het hulle dit ongetwyfeld gekry.  As die wedstryd met ’n skoolgeveg – sommer tweede pouse daar agter die snoepie – vergelyk kan word, dan het die kleiner graadnegetjie beslis vir die groter matriekseun ’n onverwagse bloedneus gegee.

  • Puntemakers:

Toyota-uitnodigingspan: Drieë: Marnus van der Merwe (2), Leolin Zas, Jamba Ulengo, Shayne Bolton en Richard Kriel. Doelskoppe: Doelskoppe: Inny Radebe (5). Strafskop: Radebe.

Cheetahs: Drieë: Brandon Thomson (2), Jeandré Rudolph, Dries Swanepoel en Louis van der Westhuizen. Doelskoppe: Ruan Pienaar (3) en Frans Steyn (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

BARNEY ·

Ek het nooit gedink ek sal dit se nie, maar ons het die ou Currie Beker kompetisie nodig. Nie allerhande oorsese kompetisies nie. Dink net hoe sterk sal ons rugby word as al hierdie talent gereeld groit rugby speel en nie hulle toekoms in Europa gaan soek nie.
Dit is Baie goed om te sien die talent kom nog deur.

Tubac ·

Baie waar. Ongelukkig is geld nou die belangrikste wat gaan veroorsaak dat talent nie ontgin gaan word nie.

Anton ·

Daar was nie een Cheetah wat in die Springbok span hoort nie.

Barend ·

Maar ek bly nog ‘n Cheetah ondersteuner. Eintlik alle sport van die Vrystaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.