Nat balle help Cheetahs met voorbereiding

Die Cheetahs (Foto: Twitter)

Die Cheetahs het die wêreld aan die brand gespeel in hul drie Pro14-wedstryde in Suid-Afrika. Hul spel is toe gekenmerk deur avontuurlustige hardlooprugby in die sonnige Bloemfontein, maar sedert hulle op die sopnat Europese velde speel, is dinge beslis minder rooskleurig vir die Vrystaters.

Die span het drie agtereenvolgende wedstryde in Europa verloor en nou probeer Hawies Fourie om sy troepe meer gewoond te maak aan die gladde en nat toestande.

Die Cheetahs het vandeesweek hul oefen-rugbyballe in water gedoop in ’n poging om die moeilike wedstrydtoestande na te boots.

“Die feit dat ons nie by die Noordelike Halfrond se toestande aangepas het nie, is beslis een van die hoofredes waarom ons nog nie weer gewen het nie,” het Fourie gesê.

“Dit is moeilik om nie die bal tydens oefensessies na hartelus rond te gooi wanneer die son helder skyn nie. Alles werk dan klopdisselboom, maar wanneer jy oorsee toer, werk dit nie altyd so lekker nie.”

Volgens Fourie kan ’n span op toer nie dieselfde soort rugby speel as waaraan hy op sy tuisveld gewoond is en verwag om te wen nie.

“Ons moet daardie konsep doodeenvoudig net onder knie kry. Die ouens begin darem nou stelselmatig daaraan gewoond raak, maar daar lê nog baie harde werk voor.”

Natuurlik speel die weer ook nie lekker in Brittanje saam nie. Die Cheetahs oefen in sonskynweer, maar op wedstryddag reën dit gewoonlik katte en honde.

“Ons probeer goed soos om die balle in emmers vol water te doop. Dit maak die bal glibberig en maak die spelers meer vertroud daarmee om ’n gladde bal te hanteer. Dit gee hulle meer selfvertroue – veral wat hul aangeewerk betref.”

  • Die Cheetahs speel op 30 November teen die Ospreys in Swansea. Die wedstryd sal om 21:35 op SuperSport uitgesaai word.
  • Intussen sal Jasper Wiese nie saam met die span toer nie. Hy is vir drie weke geskors ná sy rooi kaart teen die Cardiff Blues ’n week of wat gelede.
  • Die Cheetahs-groep vir hul laaste toerwedstryd: Wilmar Arnoldi, Craig Barry, Clayton Blommetjies, Aranos Coetzee, Aidon Davis, Luan de Bruin, Erich de Jager, JP du Preez, Benhard Janse van Rensburg, Sintu Manjezi, Chris Massyn, Rabz Maxwane, Tian Meyer, Gerhard Olivier, Ruan Pienaar, Junior Pokomela, Tian Schoeman, William Small-Smith, Rhyno Smith, Chris Smit, Walt Steenkamp, Marnus van der Merwe, Boan Venter, Reinach Venter, George Whitehead.
  • Die span is tans derde op die punteleer, ná Leinster en Ulster.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.