Nóg ʼn naweek van rooi gesigte

Mark Alexander – nog rooi gesigte. Foto: Facebook/Saru

Dit raak ʼn gewoonte en ʼn amperse afgesaagde storie soos ʼn destydse langspeelplaat wat vasgehaak het.

Terwyl daar in Suid-Afrika gekibbel, gekabbel, gesystap en ontken word of die beleërde Springbokafrigter, Allister Coetzee, wel verlede week sy merietegesprek met sy Suid-Afrikaanse rugbybase gehad het, gaan die afrigters Johan Ackermann (Gloucester) en Johann van Graan (Munster) van krag tot krag.

Mark Alexander, die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het in die naweek daarop gesinspeel dat Saru nog nie ʼn merietegesprek met Coetzee gevoer het nie, omdat die Springbokke eers ʼn week gelede van die Europese toer af teruggekeer het.

Maar hoekom staan dit nie voorop in die nuusverklaring wat Saru uitgereik het nie?

Volgens die verklaring sê Saru dat hy nie in ʼn posisie is om antwoorde op vrae te verskaf oor die bepiegelinge wat rondom Coetzee heers nie en dat dit eers in die nuwe jaar gedoen sal word.

Hoekom speel Saru nie oop kaarte en bevestig of daar wel ʼn prestasieklousule in sy kontrak is nie?

Dit terwyl Ackermann en Van Graan oorsee van krag tot krag gaan.

Kom ons kyk wat in die naweek gebeur het.

Gloucester 69, Zebre 12: 11 drieë gedruk, tweede op die Rugbyuitdaagbeker se puntelys, tweede in die Engelse Premierliga. Die span is gelukkig, die toeskouers ook, want Ackers het binne die bestek van drie maande die saadjie geplant wat reeds ontkiem en wortel geskiet het. ʼn Span wat goed afgerig is, lei tot welslae.

Munster het hierop voortgebou toe hy Leicester met 25-16 in gure weer op Welford Park geklop het. Munster (15 punte) is onoorwonne en voor in Groep 4 van die Europese Kampioenebekerreeks, gemaklik voor Racing 92 (11), Castres (7) en Leicester (6). Dit binne ‘n maand?

Dit laat die vraag ontstaan of Van Graan se talente nie vermors is nie, nie raakgesien is nie en of hy werklik benut is.

Van Graan was onder Coetzee die Bokke se voorspelerafrigter. Hy was ook jare lank een van Heyneke Meyer se assistente.

Nou kry hy (en Ackerman) die kans om tong uit te steek, terwyl ons merietegesprek moet hou oor ʼn wenpersentasie van 44% wat oor die afgelope twee seisoene behaal is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Realis ·

Kan Toetie nie maar die regte ding doen en bedank nie? Maak nie saak watse werk mens doen, jy weet mos self as jy nie die mas opkom nie.

Veritas ·

Realis, Toetie het geen selfrespek nie so padgee, uit vrye wil, dié sal hy nie. Maar dit is mos maar die Nuwe Suid-Afrika se manier van handel. Solank jy die geld kry, byt jy vas. Dit is óf dit óf hy dink regtig dat hy die Bokspan goed afrig.

Dirkie ·

Mark Alexander en die held raad moet saam Toetie die eerbare ding doen en aanvaar hulle kom nie eens amper die mas op nie. Maar hulle Sal nooit die eerbare doen nie want die koei het nog baie melk wat hulle Wil melk. In enige werk met passie moet jy die mas opkom of jy moet wegstap. Toetie kom beslis nie die mas op nie, met of sonder kwotas.

Gert ·

Verseker sal Johan Ackerman die beste afrigter vir die Bokke wees, maar het hy nie die aanbod vantevore al van die hand gewys nie, of is ek verkeerd?

Jack Russl ·

Ek kan verkeerd wees, maar ek kan nie so iets onthou nie. Dink hulle het gesê hy het nog nie genoeg ondervinding nie en is toe nie oorweeg nie

Callie ·

AC vertel elke keer hoe baie hy leer uit so verloor. Hy is nou byna al alwetend met al die kennis. Dan as n man so trots is op wat sy manne bereik het, wat so mooi geoefen het, hoe wil julle hom dan nou uitstem. Gaan ons wragtig nou al daai kennis mors

Jack Russl ·

Ja nee. Steven Hansen kan baie by AC leer, ek meen in 2 jaar het AC twee keer soveel geleer soos Hansen in 5 jaar.

Justin ·

Ackerman en Van Graan sal dom wees om by AC oor te vat. Hoekom sal jy as afrigter bedank by ‘n span waar jy die beste spelers kan kies , en gereeld wen net om ‘n pos te aanvaar waar politiek bepaal wie jy mag kies vir ‘n gedeelte van jou span?

Daniël ·

Geen afrigter met selfrespek en ruggraat sal onder die huidige Saru bestel die nasionale span wil afrig nie.

Wesley ·

Ek stem saam dat SA rugby defnitief rond voeter, maar sien nie wat die sukses van van Graan by Munster daarmee nou te doen het nie. Hy was net so saam AC daar en net so deel van n problematiese afrigting span. Nou loof ons hom dat hy by n ander span sukses vind? AC was ook suksesvol met die Stormers. Beteken dit nou iets vir die Bokke???? Nee wat, totaal afgelee….

Callie ·

Wesley, die hoofafrigter bepaal waarheen n span op pad is. Wat se sukses het hy by Stormers gehad. Met n top Stormer span met groot name het die Bulls in daai Super eindstryd bo oor hulle geloop. Die ou kan nie, finish en klaar. Luister net na sy absurd, lagwekkende kommentaar na sy span verloor het.

thelsa ·

Johan Ackerman het die Bokafrigterspos vroeër van die hand gewys. Hy kon bietjie verder sien as wat SARU se vermoë is om om goeie afrigters aan te wend. Hy het geweet hy wil graag ‘n ‘career’ bou en het nie ‘n ‘job’ gesoek nie. Die toppunt van optimisme in die SuidAfrikaanse rugbygeledere is ‘n Springbokafrigter wat met sy toebroodjies in die oggend werk toe gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.