Nou is almal skielik tjoepstil!

Eddie Jones. (Foto Twitter@EnglandRugby)

Dis darem baie lekker om iemand bloedneus te gee wat daarvoor gesoek het.

Soos die Engelse rugbyspan ná die reeksneerlaag teen die Springbokke, en soos die minister van sport oor SuperSport se Ashwin Willemse-debakel of elke Jan Rap en sy maat wat oor die voorval op die wa gespring het sonder enige bewyse.

Hoekom word daar nou so min getwiet?

Die Engelse afrigter, Eddie Jones, was vol bravade en sarkasme toe sy span twee jaar lank aan die wenkant was, maar namate sy span die kluts begin kwytraak het, het sy stortvloed woorde opgedroog ‒ net soos dié van die Engelse span se punte in Saterdag se tweede toets in Bloemfontein.

Nou kry jy hom eintlik jammer, want hy is met die rug teen die muur, veg uit die laaste loopgraaf en jy kom agter dat hy eintlik ook ʼn gawe ou kan wees.

Ek het Jones langer as 20 jaar gelede ontmoet, toe hy destyds die Brumbies en daarna ook die Wallabies afgerig het.

Sy oënskynlike arrogansie en woordeoorlog is eintlik ʼn sielkundige speletjie, want hy probeer só sy teenstanders ontwrig, onkant betrap en dan die slag te slaan.

Ek onthou nog hoe hy destyds met Laurie Mains, wat die Cats afgerig het, se kop gesmokkel het. Die Brumbies was meesters daarvan om obstruksie met hul hardlooplyne te pleeg (dit was toe nog binne die reëls). Ek onthou hoe hy dit reggekry het om Bill Young se oënskynlike swakheid in die skrum te verbloem en hoe hy Joe Roff, Stirling Mortlock, Stephen Larkham, George Gregan en Owen Finnegan in wêreldbrekers ontwikkel en geslyp het.

Ek onthou hoe hy destyds ʼn kameraman “gehuur” het om een van die Bok se oefeninge vanuit die restaurant op Ellispark vas te lê. Toe hy betrap is, is daar agterkom dat daar geen opname gemaak is nie, dit was deel van Jones se skaakspeletjie.

Maar noudat Jones aan die agterspeen suig, steek hy sy trots in sy sak en erken hy sy foute.

Hy het immers die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, se blad gaan skud en hom gelukgewens.

Dit laat ʼn mens dink aan Heyneke Meyer en Steve Hansen, wat altyd oor en weer by mekaar gekuier het en ʼn vleisie gebraai het wanneer hulle die kans gekry het.

Rugby is groter as enige individu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kantlyn keurder ·

Pasop deur nie self in die slaggat van arrogansie te verval nie.

Jakkalas ·

Ek hoop Ashville Willemse en daai ministertjie van sport wil aandagtig daai laaste sin lees. Die spel is groter as die individu.

Jan ·

Moontlik kan Ashwin ‘n comeback maak. Ashwin sê groete vir die Saarks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.