Nuwe skrumreël tydens Sesnasies beproef

Daar word ’n nuwe skrumreël tydens Sesnasies-wedstryde op die proef gestel. Foto: Paul Ellis/AFP.

Die Sesnasies-reeks begin hierdie naweek in alle erns en so saam met die aksie sal ’n nuwe skrumreël ook op die proef gestel word.

Spanne se hakers sal nou letterlik hul beste voet moet voorsit wanneer daar gereed gemaak word om te skrum.

Daar word nou van dié spelers verwag om ’n “remvoet” na die teenstanders tydens die hurk- en bindfase van ’n vaste skrum te hou.

Indien ’n haker versuim om sy remvoet uit te strek, sal ’n vryskop aan sy teenstanders toegeken word.

Alan Gilpin, Wêreldrugby se uitvoerende hoof, meen dat die proeflopie ’n aanduiding vir belanghebbendes sal gee om te bepaal of die verstelling ’n positiewe invloed op die spel en spelers se veiligheid sal hê.

“Ons wil hê rugby moet die beste wees vir almal wat dit speel en kyk.”

Volgens Cobus van Dyk, ʼn plaaslike voorspelerafrigter, kan hierdie aanpassing inderdaad vir meer veiligheid en stabiliteit in die skrums sorg – alles waarvoor Wêreldrugby hoop en wens. Van Dyk is die afrigter van Hoërskool Waterkloof in Pretoria se eerste rugbyspan. Hy is ook die skrumafrigter van Tuks se Varsitybekerspan, terwyl hy ook aan die stuur van die SA Skole-voorspelergroep is.

“In die verlede was sommige voorrye reeds vroeg gereed vir aksie, wat beteken dat hulle ’n bietjie vorentoe leun en nie hul eie gewig dra nie. Sodoende geniet hulle ’n voorsprong omdat hulle as’t ware dan meer in die skrum inval as vorentoe beur,” het Van Dyk gesê.

“Daar word met die jongste proeflopie van ’n haker verwag om ’n voet vorentoe te strek sodat die hele voorry hul eie gewig moet ondersteun. Dit maak dinge ongetwyfeld veiliger.”

Volgens Van Dyk kan dit skrumafrigters ook voortaan dwing om die veiliger roete op die oefenveld te volg; veral omdat daar minstens 100 kg se druk (alleenlik met die inslaanproses, om nie eens van die res van die storie te praat nie) op die haker se nek rus.

“In ’n neutedop word daar met die reël gepoog dat almal onder hul eie gewig by die skrums inslaan sodat daar minder onbeheerde druk op ’n haker se nek is.”

Hy glo terselfdertyd dat al twee pakke nou ook op ’n meer gelyke voet sal wees, terwyl afrigters slim sal moet dink om hul skrums ekstra slaankrag te gee.

“Die skrums behoort minder ineen te stort, terwyl dit ook die beseringsrisiko verminder.”

Sesnasies-bepalings:

Ierland teen Wallis (Saterdag om 16:45)

Skotland teen Engeland (Saterdag om 18:45)

Frankryk teen Italië (Sondag om 17:00)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.