Ospreys trap Lions se tjank af

Die Ospreys het behoorlik oor die Lions geloop. (Foto: X/ Ospreys)

Die Lions sal hul besoek aan Swansea in Wallis nie lank wil onthou nie, want dit het daartoe gelei dat hul aanslag op ʼn plek in die top agt van die Verenigde Rugbykampioenskap ʼn groot knou weg het en dalk selfs daarmee heen is.

Nadat die Lions verlede Saterdag ʼn geskiedkundige eerste oorwinning oor Connacht in Galway behaal het, het hulle tot agtste op die puntelys opgeskuif en het ʼn plek in die uitspeelrondes begin wink.

Die Lions was vol geesdrif en ondernemingsgees, hulle het op volle vaart die bal wyd gerek terwyl die voorspelers Connacht bloedneus gegee het.

Maar Saterdag in Swansea, wat maar ʼn uiters oninspirerende stad sonder liggies is, was al die goeie werk oënskynlik op die rak, want hulle was sonder passie en geesdrif.

Die Ospreys het die Lions met 36-21 ore aangesit nadat hulle rustyd met 15-7 voor was.

Die tuisspan het die oorwinning verdien, want vir 65 minute het die Lions nie na een van die aanspraakmakers op ʼn plek in die uitspeelrondes gelyk nie.

Die drag slae het beteken dat die Ospreys tot die sewende plek opgeskuif het en die Lions, wat geen bonuspunte kon verower nie, tot 11de afgeskuif het, hoewel hulle net een punt agter die Ospreys is.

Wat die Lions grys hare moet gee, is dat hulle 20 keer die bal aangeslaan het en 18 keer besit afgestaan het.

Hulle het weliswaar die bal 135 keer gedra, maar min deurdringingsvermoë getoon.

Die Lions het ook nie hul kanse gebruik nie en het eers ná ʼn uur begin vlamvat toe Sanele Nohamba na losskakel geskuif het en Morné van den Berg nuwe lewe op skrumskakel geblaas het.

ʼn Mens wil ook nie aldag oor die skeidsregter kla nie, maar hoe Andrew Brace die Ospreys laat wegkom met ʼn rits skrumoortredings op hul eie doellyn, het ʼn mens laat kopskud.

Nietemin moet die Lions hierdie week in die spieël gaan kyk, want sulke kanse, veral teen Walliese spanne, kom soms op ʼn skinkbord, maar dan moet dit aangegryp en benut word.

Puntemakers: Ospreys 36 (15); Drieë: Tom Botha, Sam Parry, Morgan Morris, Lewis Lloyd, Owen Williams. Doelskop: Owen Williams (3), Jack Walsh. Strafdoel: Owen Williams.

Lions: 21 (7): Drieë: PJ Botha, Cuan Horn, Richard Kriel. Doelskoppe Jordan Hendrikse (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.