Oudste en roemrykste Blou Bul-klubs smelt saam

madeliefieTwee van die oudste en roemrykste klubs van die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) gaan blykbaar van die toneel verdwyn wanneer hulle glo vandeesweek saamsmelt.

Ná verneem word, het Harlequins (in 1903 gestig) en Pretoria Polisie (in 1922 gestig) die BBRU in kennis gestel dat dié twee klubs een word om die Quins-Bobbies-rugbyklub (QBR) te vorm om van 2017 af vorentoe as sulks aan die bond se ligas deel te neem.

Die nuwe klub beoog om aan al die reekse van die BBRU deel te neem en wil twee derde spanne inskryf.

`n Nuwe trui en klubembleem sal glo binnekort bekend gestel word.

Polisie het sedert sy stigting die bond se gesogte Carltonbeker meer as enige ander klub gewen. Hy was 26 keer die alleenhouer en het die beker vyf keer gedeel – in 1949 juis met Quins.

Voor die stigting van die Noord-Transvaalse Rugbyunie (NTRU) in 1938 was Pretoria deel van Transvaal en het Polisie dié bond se Pirates-grootuitdaagbeker vier keer gewen.

Die Lappiestruie was benewens die deelslag twee keer die alleenhouer van die Carltonbeker.

Die Bobbies het as die bond se voorste oop klub die BBRU die afgelope paar jaar in die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker verteenwoordig. In die dae van die ou nasionale klubkampioenskap het hy by geleentheid dié gesogte titel gewen.

Die Universiteit van Pretoria se Rugbyklub (Tukkies) wat in 1909 gestig is en Korrektiewe Dienste (voorheen Gevangeniswese), wat verlede jaar sy 85ste verjaardag gevier het, is dus nou die enigste van die klubs wat in die jare veertig van die vorige eeu Carltonrugby gespeel het wat nog in hul oorspronklike vorm bestaan.

Oudste lankal tot niet

Die Oostelike Rugbyklub (die Uile) wat in 1942 gestig is, het in 1998 met die koms van beroepsrugby kragtens `n borgooreenkoms die Naka Bulle geword, en as Naka dié wortels erken, kan hy met reg vanjaar sy 75ste verjaardag vier.

Die hoofstad se oudste klub, Pretoria, is lankal tot niet en Polisie, wat geruime tyd al `n oop klub sonder sy eertydse bande met die SA Polisiediens is, het die afgelope jaar sy (Pretoria se) ou terrein in Groenkloof betrek.

Yskor het sedert 1991 saam met die Pretoriase Technikon as Yskor-Technikon aan die Carltonliga deelgeneem. Die Technikon is nou die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT), wat in die B-afdeling van die Carltonreeks speel.

Innesdal het in 1962 Adelaar geword, en dié het in 1996 met Silverton saamgesmelt om Adelaar-Silverton te vorm; Bereapark het in die huidige Transnet-Parke opgegaan; en Weermag (aanvanklik Garnisoen) het doodgeloop en later as Pretoria Militêr herleef. Geeneen van dié klubs speel meer in die A-afdeling van die Carltonreeks nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Neels ·

Baie dankie vir hierdie brokkie geskiedenis. Ek het self in die vroeg negentigs vir Adelaar gespeel. Dalk nie n slegte idee om n boek oor die geskiedenis van die klubs te skryf nie. Ek hoop dit bly behoue.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.