Peyper aan’t stuur van Kampioenebeker-finaal

Suid-Afrika se Jaco Peyper. (Foto: Hansie Linde)

Europese rugbybase het bevestig dat Jaco Peyper op 20 Mei in beheer van die Kampioenebeker-eindstryd tussen Leinster en La Rochelle in Dublin sal wees.

Engeland se Karl Dickson en Christophe Ridley sal sy assistente wees, terwyl nog ʼn Engelsman – Tom Foley – as die televisieskeidsregter sal optree.

“Peyper sal geskiedenis maak wanneer hy die eerste Suid-Afrikaanse skeidsregter word om in ʼn Europese eindstryd op te tree,” het European Professional Club Rugby (EPCR) in ʼn verklaring gesê.

Die Suid-Afrikaner, wat al by twee Wêreldbeker-toernooie in aksie was, is tans Suid-Afrika se mees ervare skeidsregter.

Die Bloemfonteinse regsman het gedurende die vorige wêreldskouspel in Japan sy 50ste toetswedstryd geblaas toe hy die man in die middel vir die Wallis/Frankryk-kwarteindstryd was.

Peyper is egter deur Wêreldrugby oor die vingers getik omdat hy ná die wedstryd vir ʼn foto saam met Walliese ondersteuners geposeer het.

In die foto het die Rooidraak-ondersteuners met Frankryk se Sebastien Vahaamahina gekgeskeer. Peyper het gedurende die wedstryd die groot Fransman met ʼn rooi kaart van die veld gejaag nadat hy Wallis se Aaron Wainwright met sy elmboog bygedam het.

Talle rugbykenners, onder wie die voormalige Engelse vuurvreter James Haskell, het Peyper se halfeindstryd-afwesigheid as “verregaande” bestempel.

Peyper was ook die man in die middel tydens die Verenigde Rugbykampioenskap-kwarteindstryd tussen die Stormers en die Bulls op die DHL-stadion; ʼn kragmeting wat die Kapenaars met 33–21 gewen het.

Jake White – die Pretorianers se direkteur van rugby – het ná afloop van die wedstryd oor ʼn paar van die beslissings kopgekrap.

Dan was ʼn paar Engeland-ondersteuners ook ontevrede met sy beslissing om vir Freddie Steward met ʼn rooi kaart in ʼn Sesnasieskragmeting teen Ierland van die veld te stuur.

Jaco Peyper in aksie in die Sesnasies-wedstryd tussen Engeland en Ierland in Dublin. (Foto: Ken Sutton/DPPI via AFP.)

Steward was teen die einde van die eerste helfte in ʼn botsing met Hugo Keenan betrokke en die Ierse speler het harsingskudding opgedoen.

Van Will Carling tot Ben Stokes het die beslissing veroordeel, terwyl Joe Marler dit as belaglik bestempel het.

Tog het oudskeidsregter Paul Smith gesê dat die Suid-Afrikaanse fluitjieblaser korrek opgetree het; veral as jy Wêreldrugby se regulasies rakende hoofbeserings in ag neem.

“Jaco Peyper het vir sy medewedstrydbeamptes en die TV-luisteraars die perfekte voorbeeld gegee van hoe daar deesdae van beamptes verwag word om in só ʼn situasie op te tree,” het Smith gesê.

“Onthou, hy is nie verantwoordelik vir die opstel van die reëls nie. Hy moet dit net toepas.”

ʼn Komitee het egter later bevind dat die botsing nie ʼn rooi kaart regverdig het nie.

Topoudskeidsregter Nigel Owens meen egter ook dat die beslissing, alles in ag genome en met Peyper midde in die taai rugbystryd, ‘waarskynlik’ reg was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willie ·

Dis okay want ten minste kan hy nie die Bulle verneuk nie.
As die Stormers die final maak sal hulle defnitief wen

SjN ·

Mooi prestasie Mnr Ref, Jaco, onthou, elke outjie maak soms n foutjie en jy sal nie almal altyd tevrede kan stel nie. Hou so aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.