Poemas sukkel weer; Japan verras met groot sege

Die naweek se rugby benewens die twee Australasiese kragmetings en die stryd op Nuweland het ʼn paar verrassings opgelewer.

Die verrassings was egter eerder oor die tellings as die uitslae van wie teen wie gewen het.

Vir Suid-Afrika is die belangrikste en seker ook die interessantste Skotland se wentelling van 44-15 teen Argentinië. Dit was die Poemas se derde opeenvolgende neerlaag op tuisbodem dié maand nadat Wallis hulle ook twee keer behoorlik reggesien het.

Skotland was rustyd reeds met 36-3 voor.

Iets skort met die Suid-Amerikaners se rugby, en hulle hoop om nie in die Rugbykampioenskap verneder te word nie, sal op die nuwe afrigter Mario Ledesma wees wat reeds die Jaguares in die Superreeks reggeruk het en nou die Poemas se leisels by Daniel Hourcade oorneem.

Skotland, wat verlede week die eerste van die “tradisionele” spanne geword het wat deur die VSA geklop is, het ses drieë teen Argentinië se twee gedruk.

♦ Japan was miskien net-net die gunstelinge om tuis teen Georgië te wen en het toe ook so gemaak. Maar die skielike verbetering in Japanse rugby moet nie misgekyk word nie. Hulle het die Georgiërs met 28-0 afgeransel.

Dit is ʼn indrukwekkende sege as jy in ag neem Japan is net 0,02 punte en een plek bo Georgië op die amptelike wêreldranglys.

♦ Tonga het in Suva die tuisspan Fidji met 27-19 geklop en daarmee bevestig dat hulle die sterkste van die Suidsee-eilande se spanne is; en die VSA het Kanada wéér lekker pak gegee, met 42-17 gewen en ses drieë teen twee gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.