Polla is saam met Mof en Domkrag Afrikaanse rugbykultuurskatte

rugbybal2.jpg

Argieffoto.

Vra vir enige rugbyondersteuner of hy ooit van Theodorus Theunis Fourie gehoor het en hy sal “nee” antwoord.

Maar vra vir enige stoere Blou Bul-ondersteuner of hy vir Polla Fourie geken het, en hy sal “ja” antwoord.

Polla was soos Mof en Klein-Mof, niemand het hul doopname geken nie.

Terwyl ons verlede week verby Machadodorp in Mpumalanga ry op pad van ʼn kort wegbreekkans in die Wildtuin, het Polla se naam by my opgeskiet, want dit was dié omgewing waar hy ná sy rugbyloopbaan geboer het.

Polla was ʼn lid van ʼn gevreesde Polisiespan, wat in die destydse Carltonliga vuur geblaas het. Wanneer die Bobbies en Tukkies, soos gewoonlik, sake uitgespook het om die Carltonbeker, was Loftus Versfeld volgepak.

Honderde studente aan die een kant van die hoofpawiljoen met prof. Anna Neethling-Pohl met haar bolla in die derde ry. Aan die ander kant en ook in die houtsitplekke langs die pawiljoen, honderde studentekonstabels, geklee en getooi in blougrys uniforms.

Dis hier waar Polla saam met Mof (Myburgh), Klein-Mof (de Klerk), Jumbo (Van der Wall) en Katmuis (Conradie) hul teenstanders die horries gegee het. Tot vandag toe weet ek steeds nie wat Mof, Klein-Mof en Katmuis se doopname was nie.

Dit was nog altyd deel van ʼn ryke Suid-Afrikaanse tradisie. Van skool-, koshuis- en universiteitsdae af.

In die eerste Springbokspan (toe nog Suid-Afrika) van 1891 was daar Oupa en Hasie Versfeld, Tiger Devenish en Fairy Heatlie.

Deur die jare het die lys aangegroei en dierename en kleinvee was veral gewild soos Lammetjie Luyt, Skaap Forrest, Birdie Partridge, Koei Brink, Kalfie Martin, Apie van der Hoff, Ponie van der Westhuizen, Jakkals Keevy, Haas Schoeman, Os du Randt, Ollie le Roux en Kwagga Smith.

Ek het op ʼn keer vir Dok Danie Craven gevra wat Ponie van der Westhuizen se regte naam was.

“Ek dink Ponie,” het hy glimlaggend gesê.

ʼn Hele paar spelers se grootte was ter sprake toe hulle vernoem is, soos Tiny Naude, Stompie van der Merwe, Kleintjie Grobler, Lofty Fourie, Vleis Visagie en Long George Devenish. Ter inligting: nie een van hullle was klein nie, behalwe Popeye Strydom, wat ʼn versinnebeelding van die strokiesprent-karakter was.

rugbypale

Argieffoto

ʼn Paar ander spelers was sekerlik motorwerktuigkundiges of in dié bedryf, soos Spanner Martins, Piston van Wyk (hy het vliegtuie in die Lugmag versien), Spanner Forbes en Domkrag Erasmus.

En daar was ander juwele soos Cowboy Sanders, Uncle Dobbin, Bingo Burger, Fiks van der Merwe en Tjol Lategan.

Op provinsiale vlak was die kroonjuwele Draadkar de Lange, Ghriespomp van der Merwe, Dagga Engelbrecht, Bus Bezuidenhout, Potlood Pinnock, Spyker Jacobs, Rooibal Pretorius en ʼn hele paar Oupa’s.

As ek so na die huidige Springbokspan kyk, is daar ʼn Kitsie, Faf en Polly, maar eintlik maar blote afkortings van hul vanne.

Afrikaanse byname is soos pap en wors, souskluitjies, koeksisters en blatjang.

Dis deel van rugby – mag dit nooit uitsterf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Baie interessante skrywe.Polla Fourie het ook ‘n broer gehad,Carel Fourie.Byname wat ek ook kan onthou is,Boland Coetzee,Faffa Knoetze,Mannetjies Roux,Gaffie du Toit,Hakkies Husselman,Kabous v/d Westhuizen,Balie Swart,Baksteen Nel,Kleinjan Tromp Barabas Venter.Daar is te veel om op te noem.Frans Erasmus was Domkrag genoem en het Sringbok en vir OP gespeel.So van Dok Graven gepraat.Hy het Springbokkleure gekry toe hy net 20 jaar oud was,voordat hy nog vir die WP gespeel het.Hy het Springbokrugby op alle vlakke gedien.

Eugene ·

As Jong seun het ek al die ouens gevolg en fotos geplak van julle!! Joggie Jansan ook een!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.