Pollard verlaat veld ná 27 minute

Die Springbokke se Handré Pollard. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Handré Pollard se debuutwedstryd vir Leicester Tigers het net 27 minute geduur voordat hy die veld met ʼn besering verlaat het.

Leicester het met 51 – 18 teen Saracens op die StoneX-stadion in Londen verloor en daar is opnuut weer kommer oor die 28-jarige losskakel se beskikbaarheid vir die Springbokke se jaareindtoer.

Pollard het ʼn rapsie meer as ’n maand gelede sy knie in die Springbokke se Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Wallabies in Adelaide beseer en daar is aanvanklik gevrees dat hy geruime tyd op die krukkelys sou wees.

Maar ʼn tweede opinie in Londen het die Suid-Afrikaner weer laat glimlag.

Volgens Pollard het hy ʼn klein meniskus-skeur opgedoen en indien alles volgens plan verloop sou hy binnekort weer op alle suiers kon vuur.

“Dit gaan baie goed en ek is optimisties oor die toekoms. Ek behoort ook gereed vir die Springbokke se jaareindtoer te wees,” het hy aan die Leicester Mercury gesê.

Pollard se regterknie was gister goed toegedraai toe hy net ná rustyd vir Kini Murimurivalu vervang het. Hy het 13 minute vóór die einde van die wedstryd weer die veld verlaat.

Die StoneX-stadion spog met ʼn kunsmatige speeloppervlak en volgens Ben Kay, die voormalige Engelse slot, hou nie alle spelers daarvan om daarop te speel nie.

Veral nie wanneer hulle weer probeer om hul voete ná ʼn besering te vind nie.

“Sy kniebesering is die rede waarom hy ʼn gedeelte van die Rugbykampioenskap saam met Suid-Afrika misgeloop het, en nie alle spelers geniet dit om dan weer onmiddellik op ʼn kunsmatige oppervlak uit te draf nie. Wanneer jy met ʼn speler soos Pollard in jou geledere spog, sal jy hom in watte wil toedraai. Dalk was hierdie net ʼn voorsorgmaatreël.”

Die Springbokke se losskakel-spens is deesdae maar bra leeg en die 35-jarige Frans Steyn moes onlangs vir die eerste keer in 14 jaar weer die no. 10-trui op die internasionale verhoog dra.

Damian Willemse het egter gister sy terugkeer – weliswaar as senter – vir die Stormers teen Edinburgh gemaak nadat hy harsingskudding in die Rugbykampioenskap opgedoen het.

Die presiese omvang van Pollard se besering is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

N ·

Waar is ons diepte nou? Jantjes moet mos altyd in die groep wees. Begin jong manne soos Libok, Chamberlain en Smit regmaak vir springbok rugby en bring vir Goosen in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.