Pollard weer op sy stukke

Handre Pollard skop pale toe. (Foto: Mark Baker)

Goeie nuus op die losskakel-front in die aanloop tot die komende Wêreldbeker-toernooi in Frankryk: Handré Pollard druk weer sy stempel in die nommertientrui af.

Die 28-jarige losskakel was die afgelope naweek op sy stukke vir Leicester Tigers teen Bath in die Engelse Premierliga. Hy was in die kol met vyf doel- en twee strafskoppe, terwyl hy ook ʼn drie gedruk het.

Gʼn wonder die Tigers het die kragmeting met 48–27 gewen nie.

Hy het terselfdertyd 29 meter vir sy span met sy lopies gewen en sommer ook die bal 13 keer na sy spanmaats laat loop. Verdedigingsgewys was daar ook meer geslaagde plettervatte as verbroude duikslae.

“Ons het goeie, positiewe rugby gespeel. Ek dink ons voorspelers het hulle uitstekend van hul taak gekwyt en hulle het veral dinge vir Bath op hul doellyn moeilik gemaak,” het Pollard ná die wedstryd gesê.

Die voormalige Bulls-speler het ʼn paar weke gelede ook amok teen Saracens gemaak toe hy ʼn drie gedruk en nóg ʼn foutlose skopvertoning gelewer het.

Veral sy skopkelkievertoning sal Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners laat glimlag. Vlok Cilliers het immers vroeër gesê dat skopwerk ʼn deurslaggewende rol in Frankryk kan speel.

“Op toetsvlak is die spelers se verdediging al so goed dat ʼn span van skoppe gebruik moet maak om geleenthede in punte te omskep,” het die Suid-Afrikaanse skopghoeroe aan Maroela Media gesê.

Pollard se kniebesering tydens verlede jaar se Rugbykampioenskap het vir ʼn skielike Springbok-losskakelkrisis gesorg, maar Damian Willemse en Manie Libbok verdien ʼn klop op die skouer vir die wyse waarop hulle sy skoene volgestaan het.

Volgens Jacques Nienaber (Springbok-afrigter) lyk dinge losskakelgewys tans heel rooskleurig vir die nasionale rugbyspan.

“Ons beskik eintlik oor goeie diepte in die posisie. Ons is baie bevoorreg dat daar ʼn paar toplosskakels is wat vir die Springbokke beskikbaar is.”

Tog het die Suid-Afrikaners aanvanklik met hul stelskoppogings in Pollard se afwesigheid gesukkel. Daarbenewens was hy ook die generaal in die Springbokspan wat in 2019 die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het.

Dit is inderdaad goeie nuus dat hy weer op alle suiers begin vuur.

Meeste punte in ʼn Springbok-trui:

  1. Percy Montgomery: 893 punte in 102 toetse
  2. Morné Steyn: 742 punte in 68 toetse
  3. Handré Pollard: 665 punte in 65 toetse
  4. Bryan Habana: 335 punte in 124 toetse
  5. Elton Jantjies: 331 punte in 46 toetse
  6. Naas Botha: 312 punte in 28 toetse
  7. Joel Stransky: 240 punte in 22 toetse
  8. Braam van Straaten: 221 punte in 21 toetse
  9. Joost van der Westhuizen: 190 punte in 89 toetse
  10. Jannie de Beer: 181 punte in 13 toetse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Het die voorreg gehad om hom as skolier by Kearsney College te sien rugby speel. Hy was die speler van die toernooi wat daar aangebied is. Hy is voorwaar ‘n goeie speler en behoort nog dieper spore in rugby te trap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.