Pumas stuur Leeus druipstert huis toe

Etienne Taljaard het een van die Pumas se vyf drieë gedruk. Foto: GB Jordaan.

Die Pumas het lank reeds gewys dat hulle nie net saam met die groot honde van Suid-Afrikaanse rugby kan blaf nie; hul byt kan ook ’n paar spanne druipstert huis toe stuur.

Die Laevelders het gisteraand in ’n rugbyles op die Mbombela-stadion vir die Leeus geleer hoe om die openingswedstryd van die Curriebekerreeks met 39 – 10 te beklink.

Die tuisspan het vyf drieë teenoor die Johannesburgers se een gedruk en veral hul voorspelers het uitstekend presteer.

Elke goeie span het egter ’n generaal in die losskakeltrui nodig om die verloop van die spel te dikteer. En in Eddie Fouché het die Pumas ’n baie talentvolle speler wat sy agterlyn ook aan die gang kan kry – kyk net na Etienne Taljaard se drie waar ’n Fouché-steekskoppie die bal aan die rol vir die tuisspan se openingsdrie gesit het.

Dan het Willie Engelbrecht sy terugkeer na Nelspruit met die Pumas se derde drie gevier. Die klipharde agtsteman het in die kleure van die Stormers ongetwyfeld sy stempel op die Reënboogbeker-reeks afgedruk en hy is een van die beter losvoorspelers in Suid-Afrika.

Was die uitslag ’n verrassing? Dalk ’n paar seisoene gelede, maar almal weet deesdae dat die Pumas ’n gedugte eenheid is.

Soos wat Marius van Rensburg – die unie se trotse uitvoerende hoof – gesê het, die span kon nie vir ’n beter begin tot die seisoen gevra het nie.

  • Puntemakers:

Pumas: Drieë: Etienne Taljaard, Simon Westraadt, Willie Engelbrecht, Dewald Maritz en Ginter Smuts. Foto: Eddie Fouché (4). Strafskoppe: Fouché (2).

Leeus: Drie: Sibusiso Sangweni. Doelskop: Fred Zeilinga. Strafskop: Zeilinga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan ·

Die leeus of sal ek eerder se welpies is beslis op ‘n glybaan ……. na nerens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.