Rassie: ‘Baie op die spel vir dié spelers’

Rassie Erasmus. Foto: Charly Triballeau/AFP.

Opkomende sterre soos Henco van Wyk, André-Hugo Venter en Simphiwe Matanzima sal saam met hardebaarde soos Johan Goosenen Cornal Hendricks vir die SA A-span teen Munster en die Bristol Bears uitdraf.

Daar is nege Springbokke in Mzwandile Stick se toergroep, maar sy spelerspens sal ná die internasionale toets teen Ierland aangevul word wanneer sewe spelers uit Jacques Nienaber se geledere by hom sal aansluit.

Die Springbok-groep sal dan uit 28 spelers bestaan en die SA A-groep uit 26 spelers.

Volgens Rassie Erasmus is die komende toer baie belangrik en dit sal ʼn goeie maatstaf vir al twee spanne wees; veral wanneer daar teen die toplande en -klubs kragte gemeet word.

Die nasionale direkteur van rugby meen dat die SA A-wedstryde ʼn gulde geleentheid vir belowende jong spelers is om te wys wat in hulle steek; daar kan immers net soveel spelers op ʼn slag deel van die Springbok-groep wees.

Cornal Hendricks is in die SA A-groep. Foto: Twitter via Blue Bulls.

“Hierdie span is die naaste wat ʼn mens daaraan kan kom om die Springbokke te verteenwoordig. As ʼn mens na die gehalte van Munster en Bristol se spanne kyk en die gelaaide atmosfeer in ag neem wat by daardie kragmetings verwag word, dan is daar baie op die spel vir die spelers. Veral met die Wêreldbeker om die draai,” het Erasmus gesê.

Duane Vermeulen is nie deel van die Springbok- óf die SA A-opset nie, maar Nienaber het intussen die sterk agtsteman se afwesigheid verduidelik.

“Iemand soos Duane het nie meer ervaring nodig nie en Ulster kyk mooi na hom. Hierdie toer is ʼn goeie geleentheid om te sien wat die jonger losvoorspelers op die groot verhoog kan doen,” het Nienaber gesê.

Die 35-jarige losvoorspeler was die speler van die wedstryd in die eindstryd van die 2019-Wêreldbeker in Japan en die Springbok-breier meen dat hy beslis nog ʼn rol in die komende skouspel kan vertolk.

SA A-span:

Voorspelers: Simphiwe Matanzima, Ntuthuko Mchunu, Sazi Sandi, Mornay Smith, Jan-Hendrik Wessels, Joseph Dweba, André-Hugo Venter, Ruan Nortjé, Phepsi Buthelezi en Sikhumbuzo Notshe.

Agterspelers: Herschel Jantjies, Sanele Nohamba, Grant Williams, Johan Goosen, Gianni Lombard, Aphelele Fassi, Cornal Hendricks, Suleiman Hartzenberg en Henco van Wyk.

SA A-span se bepalings:

10 November teen Munster

17 November teen Bristol Bears

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.