Roos opgewonde oor Fourie se terugkeer

Deon Fourie. (Foto: GB Jordaan.)

Die Stormers kan ʼn gedugte lostrio vir die naweek se Verenigde Rugbykampioenskap-kwarteindstryd teen die Bulls in Kaapstad kies.

Deon Fourie het voldoende van sy oogkasbesering herstel en hy behoort saam met Evan Roos en Hacjivah Dayimani op die DHL-stadion uit te draf.

“Deon is terug op die oefenveld en hy lyk baie goed. Ons heg nie net waarde aan sy ongelooflike vaardighede by die afbreekpunte nie, maar sy ervaring en leierskap is ook van groot waarde. Ons is baie bly hy is terug,” het Rito Hlungwani, die Stormers se voorspelerafrigter, gesê.

Op sy beurt kan Evan Roos ook nie wag om weer saam met Fourie te speel nie.

“Dit is sommer tops om weer met Deon en Hacjivah herenig te wees; dit is nou al ʼn geruime tyd sedert ons laas saam gespeel het. Die feit dat ons in die kwarteindstryd van die VRK speel, maak dit net soveel meer spesiaal,” het Roos gesê.

John Dobson het vroeër erken dat Fourie se afwesigheid ʼn groot leemte in die span gelaat het. Die Kapenaars het veral sy vaardighede in hul Kampioenebeker-stryd teen Exeter gemis.

“Ek wil nie verskonings soek nie, maar ons het glad nie probeer om die bal op die grond te steel nie en Exeter het vinnige balbesit geniet. Ja-nee, ons het Deon gemis. Hy sou beslis sake vir hulle bemoeilik het,” het die Stormers-afrigter destyds gesê.

Die 36-jarige speler se balsteelvaardighede, in samewerking met Roos se fisieke spel en Dayimani se atletiese vermoëns, kan beslis vir die Bulls hoofbrekens gee.

En as die Pretorianers vir Marcell Coetzee saam met Elrigh Louw kies, kan rugbyliefhebbers hul vere regskud vir ʼn klipharde losvoorspelerstryd.

Soos wat die voormalige Bul-skrumskakel Conrad Breytenbach vroeër gesê het: ʼn Noord/Suid-derby is immers die vertoonvenster van plaaslike rugby.

Die wedstryd begin Saterdag om 15:30 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.