‘Bulls/Stormers-derby altyd spesiaal’

Ter illustrasie. Foto: GB Jordaan.

Conrad Breytenbach sal altyd ʼn sagte plekkie in sy hart vir ʼn rugbywedstryd tussen die Bulls en die Stormers hê.

Hoe dan anders – die voormalige Bloubulskrumskakel het in 1998 die openingsdrie van die Curriebeker-eindstryd teen die Westelike Provinsie op Loftus Versfeld gedruk.

En met die Bulls wat volgende Saterdag op die einste Loftus teen die Stormers in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap kragte meet, meen hy dat die tweestryd nog onder die topderby-wedstryde tel, ongeag die toernooi.

“Dit is Suid-Afrika se twee voorste spanne op die VRK-punteleer en wat my betref, is dit die vertoonvenster van plaaslike rugby,” het Breytenbach vir Maroela Media gesê.

Tog sukkel die Bulls deesdae so ʼn bietjie. Hulle het lelik weg van die huis teen Lyon en Scarlets verloor, terwyl hulle sedert 10 Desember nog net twee keer in sewe probeerslae aan die wenkant was.

Loftus Versfeld. Foto: GB Jordaan.

“Dit was ʼn bitter moeilike toer vir die Bulls en hulle was vir seker nie op hul beste nie. Onbekende toestande [sneeu het byvoorbeeld soos ʼn wit kombers op Lyon se rugbyveld gelê] en verloorrugby gee vir geen span ʼn selfvertrouehupstoot nie, terwyl dit ook nie help as al die toeskouers vir die ander span skreeu nie.”

Maar as daar een plek is waar die Bulls weer op die wenpad kan kom, dan is dit op Fort Loftus.

“Om op Loftus te speel sal die spelers rustig maak en hulle weer vertroue in hulself en hul vermoëns gee. Net wen sal jou mojo vinnig vir jou teruggee.”

Tog gaan die Kapenaars glad nie dinge vir hulle maklik maak nie.

“Die Stormers speel tans baie goeie rugby en hul spel draai beslis om ʼn paar spilpunte. As [Manie] Libbok nie daar is nie, dan is Clayton Blommetjies of Damian Willemse op nommer tien. Terselfdertyd is hul senters rotsvas en hulle breek die lyn met finesse op die aanval, terwyl hul blitsige agterste driehoek ongetwyfeld een van hul sterk punte is.”

Volgens Breytenbach beskik die Bulls oor net soveel agterlyntalent, maar hulle word nie altyd vir die volle wedstryd benut nie.

Dan sal die Pretorianers hul storie op verdediging moet ken; die Stormers mag nie ruimte gegun word om met die bal te baljaar nie.

Conrad Breytenbach druk die openingsdrie van die 1998 Curriebekerfinaal tussen die Blou Bulle en die WP op Loftus Versfeld. Foto: Verskaf.

Maar op ʼn meer persoonlike noot – was daardie 1998-drie meer spesiaal omdat dit teen die Streeptruie was?

“Absoluut. As kind het ek altyd daarvan gedroom om vir die Bulle teen die WP te speel en ek glo dat die oudspelers, tradisie en geskiedenis tot die algehele gevoel van prestige rondom die wedstryd bydra. Ek dink dit is wat rugby so ʼn ongelooflike spel maak – jy vergeet nie sommer nie en jy wens jy kan dit nog vir oulaas weer doen.”

Charl Marais, die voormalige WP- en Springbokhaker, het in dieselfde wedstryd ʼn drie gedruk.

“Ek trek altyd sy been en sê vir hom dat almal nog van my drie praat, maar omdat hy ʼn voorspeler is, sukkel mense om sy poging te onthou. Hy het egter altyd ʼn goeie antwoord gereed en ons is groot vriende.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leon ·

Ek moet vandag met jou verskil met rede, hierdie sogenaamde noord suid derby bring netverdeelthe8d in n land waar daar geen tekort aan hierdie probleem is nie
Laat dit soos enige ander wedstryd geskied sonder die pers se opblaas van die geleentheid, daar is niks goed in die uitsondering van die twee provinsies nie , daar is in elk geval nou al meer noord transvalers in die weskaap as kspenaars self , i terresant hoe hulle altyd die WPafgekraak het nou hardloop hulle almal weskaap toe , al verskil is hulle is soontoe met ossewaens nou kom hulle op die N1 in hulle 4×4 s in hulle duisende WP toe ????????????

Andre ·

Die wedstryd is niks anders as gesonde kompetisie nie – en dan is daar nog die vleisbraai vure rondom Loftus ook.
Jou galbraak is onnodig.

piet ·

Die grootste verrassing van hierdie storie is die foto. Ek het nie geweet dat Morne kan tackle nie (weet ook nie of hierdie een suksesvol was nie, ek sou raai dit was nie). LOL

KaRoOkWaGgA ·

Al die jare is ‘n WP(Stormers) en Noord-Transvaal (Bulls) derby ‘n groot hoogtepunt op die rugby kalender. Op ‘n tyd het die Natal (Sharks) en Transvaal (Lions) derby ook by dié twee spanne aangesluit en toe…………….. kom politiek en versier alles. Waar ek altyd passievol was oor S.A. plaaslike en super rugby, is ek nou in ‘n spasie dat wanneer ek ‘n wedstryd kyk, dan is dit bloot omdat ek besluit het om bietjie te relax, maar die dae wat ek werk vinnig afhandel om te kan rugby kyk, is vir ewig verby. Dankie POLITIEK.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.