Rose opgewonde om saam met Felix te werk

Felix Jones gaan binnekort die Rose op die verdedigingsfront bystaan. (Foto: Thomas Samson/AFP)

Felix Jones word amptelik deel van Engeland se afrigtersopset. Hy is as die Rose se verdedgingspesialis aangestel.

Die Springbokke het die voormalige Ierland-heelagter aanvanklik in 2019 as ʼn verdedigingskonsultant betrek, waarna hy ʼn rukkie later as ʼn assistentafrigter aangestel is.

Jones se tyd by die Bokke het beslis gehelp om sy rugbygetuigskrif in te kleur: Wie het enige verwysings nodig as jy sommer ʼn foto van jou Wêreldbeker-wennersmedaljes kan aanheg?

SA Rugby het reeds in Maart 2023 bevestig dat sy paadjies met Jones gaan skei.

“Dit is ʼn groot slag om ʼn afrigter van Felix se gehalte te verloor,” het Rassie Erasmus destyds gesê.

“Hy was die afgelope paar jaar ʼn aanwins vir die Springbokke en die wyse waarop hy in sy rol gegroei het en bykomende verantwoordelikhede aanvaar het, was bewonderenswaardig.”

Volgens Steve Borthwick is Jones se ervaring ʼn definitiewe aanwins.

“Ek is baie opgewonde om saam met Felix te werk. As afrigter het hy ʼn ongelooflike reputasie en hy het baie ervaring op die internasionale verhoog. Hy kan ons span na groter hoogtes neem – veral as ʼn mens sy agtergrond saam met Ierland en sy kennis van Suidelike Halfrond-spanne in ag neem,” het die Engeland-breier gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.