Rugbykampioenskap: Watter opsies bly oor?

’n Wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks is altyd iets om na uit te sien. Foto: Odd Andersen/AFP.

Die geelwortel van miljoene wat ʼn reddingsboei vir die rugbyunies van Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië en Argentinië kan wees, sal na alle waarskynlikheid die deurslag gee wanneer daar binnekort ʼn besluit oor vanjaar se Rugbykampioenskap geneem moet word.

Die reeks is opnuut in groot onsekerheid gedompel nadat Nieu-Seeland Rugby die All Blacks daaraan onttrek het alvorens Sanzaar (die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond) nie ʼn finale besluit geneem het oor waar vanjaar se oorblywende wedstryde moet plaasvind nie.

Dit het gevolg nadat die Nieu-Seelandse regering nuwe verskerpte reis- en inperkingsmaatreëls aangekondig het om die Covid-19-pandemie, wat opnuut kop uitgesteek het, hok te probeer slaan.

Daar is drie scenario’s op die tafel met die Australiërs wat dit in Queensland (Brisbane) wil hou, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) wat aangebied het om dit hier aan te bied en om dit na Europa te verskuif.

Terwyl die Aussies en Kiwi’s besig is om mekaar oor en weer aan die gorrel te ruk nadat die All Blacks geweier het om na Perth te reis vir aanstaande Saterdag se toets teen die Wallabies (vanweë die Covid-19-beperkings wat daar in Nieu-Seeland heers as die span sou terugkeer) is die kans uiters skraal dat die toernooi slegs in Australië gespeel sal word.

Te min toeskouers en kwynende belangstelling kan die grootste remskoene wees.

Saru se aanbod om die reeks tuis aan te bied, sal straks nie met ope arms ontvang word nie. Die Kiwi’s en Aussies het Suid-Afrika nog nie vergewe nie nadat hulle nie kans gesien het om in verlede jaar se reeks te speel nie. Ook sal hulle langtand daaraan byt dat die wêreldkampioene tuisveldvoordeel het, terwyl Rassie Erasmus se video waarin hy die Wallaby-skeidsregter Nick Berry kwaai geroskam het, die Aussies warm onder die kraag gelaat het.

Die derde opsie, om in Europa voor duisende toeskouers te speel, kan soos manna uit die hemel wees.

Ja, dit sal indruis teen tradisie, want hoe kan die All Blacks en die Bokke in hul 100ste toets op Twickenham speel?

Maar wanneer die kalf in die put is, wanneer rugby wurg om voort te bestaan, moet daar ongewilde besluite geneem word.

Dit kan beteken dat al vier spanne na Frankryk of Ierland reis en nadat daar aan al die vereistes voldoen is, dan in Londen (Twickenham of Wembley), Cardiff (Millenium-stadion), Dublin (Aviva-stadion) en Parys (Stade de Francais) in dubbeldoor-wedstryde voor toeskouers teen mekaar speel.

Al vier spanne moet boonop aan die einde van die jaar deur die Noordelike Halfrond toer, wat sal beteken dat die 46 spelers wat in die Rugbykampioenskap speel, vir nog vier of vyf weke in Europa sal aanbly.

* Die Sharks en Crusaders het in 2011 op Twickenham in die Superreeks (ná die aardbewing in Nieu-Seeland) teen mekaar gespeel en die Argentynse Poemas en Wallabies het in 2016 mekaar in die Rugbykampioenskap op Twickenham gepak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.