SA spelers sorg vir twee Kampioenebeker-seges

Suid-Afrikaners het Sondag grootliks tot die oorwinnings van twee klubs in die reeks om die Europese Kampioenebeker bygedra.

Die Springbok Ruan Pienaar (skrumskakel) het met 14 punte – ʼn drie, drie doelskoppe en ʼn strafdoel – daartoe bygedra dat die Franse klub Montpellier sy landgenoot Toulon met 34-13 afgeransel het. Jan Serfontein (binnesenter), eweneens ʼn Bok, en Henry Immelman (linkervleuel) het elk ʼn drie gedruk.

Dit was ook die geval met die Skotse superklub Edinburgh se sege van 21-8 oor die Engelse klub Newcastle, waar Jaco van der Walt (losskakel) met ʼn doelskop en drie strafdoele geslaag het (11 punte), en Duhan van der Merwe (linkervleuel) ʼn drie gedruk het.

Immelman het o. 21-rugby vir die Vrystaat gespeel; Van der Walt het vir die SA Skole-span gespeel en Superrugby vir die Lions; en Van der Merwe het Suid-Afrika op o. 21-vlak verteenwoordig voor hy vir die Blou Bulle in die opstelronde van die Curriebeker uitgedraf het.

♦ Nóg twee Bokke het in die jongste ronde van dié reeks agter die doellyn gaan kuier.

Willie le Roux (heelagter) het een van die Engelse klub Wasps se drie drieë teen die Franse klub Toulouse gedruk in ʼn wedstryd wat laasgenoemde met 42-27 gewen het; en Francois Louw (agsteman) het ʼn drie vir die Engelse klub Bath in sy nederlaag van 15-42 teen die Ierse provinsie Leinster gedruk.

♦ Don Armand (flank), ʼn Engelse toetsspeler wat vir die Stormers gespeel het, het een van Exeter se drieë in sy oorwinning van 29-17 oor Gloucester in die kragmeting tussen dié twee Engelse klubs gedruk.

♦ Rory Kockott (skrumskakel), wat Superrugby vir die Lions en die Sharks en toetsrugby vir Frankryk gespeel het, het ʼn geel kaart in die botsing tussen sy klub, Castres, en die Ierse provinsie Munster op die lyf geloop.

Die Franse kampioen het naelskraap met 13-12 gewen.

Europese Uitdaagbeker

♦ Heyneke Meyer en Pieter de Villiers, eersgenoemde ʼn gewese Springbokafrigter en laasgenoemde ʼn gewese Bokhulpafrigter, se Stade Français het sy eerste oorwinning in die reeks om die Europese Uitdaagbeker behaal toe hy die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) met 12-3 getroef het.

Johnny Kotzé (buitesenter), ʼn Ospreys-leenspeler van die Bulls af, het ʼn geel kaart op die lyf geloop.

♦ Robert du Preez (losskakel), ʼn Bok en ʼn leenspeler van die Sharks (Durban) af, het albei die Engelse klub Sale se drieë teen sy Franse eweknie Bordeaux Bègles verdoel.

Laasgenoemde het die botsing verrassend met 17-14 gewen nadat die Engelse klub verlede week in Frankryk met 50-24 baas was.

♦ Luhandré Luus (bankhaker), het een van die Italiaanse klub Zebre (Parma) se drieë in sy wegholsege van 58-14 oor die Russiese klub Jenisei-STM Krasnojarsk gedruk.

Luus, wat o. 20-rugby vir die Sharks gespeel het, het Italië op o. 20-vlak verteenwoordig.

Franse Pro D2-liga

♦ Twaalf punte – vier strafdoele – deur Hansie Graaff (heelagter) het Massy in staat gestel om Colomiers met 22-13 te verslaan.

Graaff het grootliks as losskakel Curriebeker-rugby vir die Griffons en die Suidwestelike Distrikte gespeel.

♦ Tristan Tedder (losskakel) het Vrydag 11 punte tot Bayonne se sege van 45-10 oor Aurillac bygedra.

Dié gewese speler van die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker, het vier van sy span se ses drieë verdoel en met ʼn strafdoel geslaag.

Sy spanmaat Torsten van Jaarsveld (haker), ʼn toetsspeler van Namibië wat die Cheetahs in Superrugby verteenwoordig het, het een van die wenspan se drieë gedruk.

♦ James Hall (skrumskakel) het twee van Oyonnax se drieë in sy oorwinning van 51-14 oor Montauban gedruk.

Vleis Engelbrecht (flank) het ʼn drie vir die verloorder gedruk.

Hall het vir SA o. 20 en vir die Kings gespeel. Engelbrecht is ʼn Blitsbok, wat Superrugby vir die Bulls en die Kings gespeel het.

Spaanse Liga van Eer

♦ Twee Suid-Afrikaners het Sondag drieë in die Spaanse Liga van Eer gedruk. Albei was aan die verloorkant.

Richard Stewart (heelagter) het vir Cisneros teen La Villa (17-18) gedruk, en Juandré Kleynhans (regtervleuel) se drie was vir Burgos teen Alcobendas (10-21).

Stewart is ʼn gewese Ikey, en Kleynhans het vir die Griffons se o. 21-span gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.