Sewes in Sydney: All Blacks vee Blitsbokke uit hul pad

(Foto: Blitsbokke/ Twitter)

Die Blitsbokke is Sondagmiddag wreed ontnugter toe hulle met 38-0 deur Nieu-Seeland in die eindstryd van Wêreldrugby se sewestoernooi in Sydney oorrompel is.

Die All Blacks, wat ook in 2016 en 2019 in Sydney aan die wenkant was, was fisiek heeltemal te sterk vir die Blitsbokke en het ses drieë gedruk.

Die Blitsbokke is in die skrums opgefrommel, hulle is teruggestoot en het twee vaskoppe afgestaan – wat ongehoord in sewesrugby is.

Van die ander balle wat wel by die skrums uitgekom het, kon weens volgehou druk nie beheer word nie en dit het tot twee verdere drieë gelei nadat die All Blacks die bal vorentoe geskop en toegeval het.

Die Blitsbokke was nooit op die voorvoet nie en dit het tot hanteerfoute gelei.

Boonop is die Blitsbokke se verdediging oopgevlek.

Die All Blacks (85 punte), wat reeds voor die toernooi voor op die puntelys was, het hul voorsprong verder vergroot, hoewel die Blitsbokke (78 punte) met hul plek in die eindstryd tot tweede opgeskuif het.

Samoa is derde en Frankryk vierde.

Punte: Nieu-Seeland 38 (17): Drieë: Roderick Solo, Joe Webber, Sam Dickson, Akuila Rokolisoa, Amanaki Nicole, Ngarohi McGarvey-Black. Doelskoppe: Rokolisoa (2), McGarvey-Black, Payton Spencer.

Suid-Afrika 0.

* In die vroue-afdeling het Nieu-Seeland ook op alle suiers gevuur toe hy Frankryk met 35-0 in die eindstryd verwoes het.

Die Nieu-Seelanders het kop en skouers bo die ander spanne uitgetroon nadat hulle Japan met 33-0 in die kwarteindrondte en Ierland met 41-0 in die halfeindrondte vermorsel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Terleurstellend in die eindstryd nadat hulle NZ vroeer in die toernooi geklop het.

mattk ·

Dit het vir my gelyk asof die spelers net nie lus was vir die wedstryd nie…… daar is ‘n besliste gebrek aan fiksheid aan afronding.

Niklaas ·

Daar was groot fout by die arme Blitsbokke wat so lam voorgekom het. Die uitslag is een groot vernedering vir die span en hul sal ‘n self ondersoek moet doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.